Steval Pumas maak hul stem met intrapslag dik
Pasop! Die Steval Pumas soek die gesogte goue beker!

Die Laevelders het hul Curriebeker-veldtog Vrydagaand in Mbombela voor 4 600 toeskouers met ‘n oorwinning van 33-24 oor die sukkelende Cell C Sharks afgeskop.
“Ons is baie verlig oor die wen en veral beïndruk met die eerste helfte. Ongelukkig kan ons nie dieselfde oor die tweede 40 minute sê nie, maar ek vat ‘n wen teenoor die Sharks enige dag,” het die breier van die Pumas, MJ Mentz, verlig na afloop van die wedstryd gesê. Dit was veral die Pumas se vertoning in die eerste helfte, waarin hulle al drie hul drieë gedruk het, wat die grondslag vir die oorwinning gelê het. Die flank en speler van die wedstryd, Marnus Schoeman, was uitstekend en het twee van sy span se drieë in onderskeidelik die 29ste en 36ste minnut aangeteken.
Die afrigter van die Pumas, MJ Mentz het baie lof vir sy span:
Met die afskop het die Pumas in vyfde rat weggespring en hoë-tempo rugby gespeel met die kaptein Stefan Watermeyer wat in die 10de minuut sy span se rekening geopen het. Die Sharks was effens af, ja, maar die Pumas het terselfdetyd gewys dat hulle ernstig opgeneem moet word in die vanjaar se reeks. Die spanne is kleedkamers toe met die rustydtelling 27-7 vir die Pumas.
Die Durbaniete het in die tweede helfte beter vertoon toe die Pumas heelwat momentum verloor het. Die verskil was merkbaar toe Michael Claassens opgestuur is. Hy het die enigste twee drieë van dié helfte gedruk.
Die afrigter van die Sharks, Gary Gold, was egter nie tevrede met sy span se vertoning nie. “Ons is baie teleurgesteld met die verloor, maar die Pumas was briljant. Hulle is nie verniet as die Vodacombekerkampioene gekroon nie. Ons het ons teëstanders te veel bal in die eerste helfte gegee, maar ek is trots op die manier hoe die manne in die tweede helfte teruggekom het.”
Gary Gold, breier van die Sharks is effens teleurgesteld met sy span se powervertoning:
Die Pumas se losskakel, JC Roos het 18 van sy span se punte aangeteken en het veral beïndruk met ‘n skop deur die pale van maklik oor die 50 meter. Die tuisspan se JW Bell het die besoekers van hul voete af gehardloop. In die skrumskakel Faf de Klerk het Mentz egter goud raak geboor. Die klein buksie was orals en het die balle vinnig na die baldraers gevoer.
Die Laevelders kom Vrydagaand sonder Rudi Mathee (skouer) en moontlik sonder Rosko Specman (skouers) en Uzair Cassiem teen die Xerox Goue Leeus in Johannesburg te staan.
Die Leeus het óók die afgelope naweek die reeks op ‘n wennoot teen die EP Kings afgeskop.

