Local sportSport

Nellie se natuurlike talent werp vrugte af

"Ek is feitlik met 'n hokkiestok in my hand gebore." So sê die talentvolle speler, Carlu Meyer van Hoërskool Nelspruit nadat sy onlangs tot die Suid-Afrikaanse o/18 B-span verkies is.

Sy is na afloop van die o/18 interprovinsiale-toernooi vanjaar in Pretoria in dié span ingesluit. “Verlede jaar op dieselfde toernooi in Natal het ek my handbeentjies en kneukel van my linkerpinkie vergruis in ‘n wedstryd teen Suid-Gauteng. Die spandokter het my hand doodgespuit en ek het die laaste vier wedstryde gespeel. Ek glo dit het my kanse verminder om regtig tot my volle potensiaal te speel.”

Sy vertel dat sy wel verbaas was om hierdie jaar die span te haal met die dat oor die 190 spelers betrokke was. “Dit was ‘n groot verrassing, want ons was 192 spelers by die toernooi van oor die land en daar is slegs twee spanne van 18 spelers elk gekies.

“Ek gee ook eer aan God wat my deur al my teleurstellings gedra en my gehelp het om positief te bly. Dit is ‘n droom wat bewaarheid is en ek is nou gemotiveerd om nog harder te werk.”

Albei haar ouers is toegewyde en suksesvolle hokkie-afrigters. Sy het reeds op driejarige ouderdom haar eerste stok gehad.

“Toe het ek al die hokkiekursusse saam met my ouers bygewoon. Alles wat ek van hokkie weet het ek by hulle geleer en my familie is my grootste ondersteuningsbasis.”

Carlu speel vanaf 12-jarige provinsiale hokkie en dit was reeds toe al ‘n droom om vir ‘n SA-span ingesluit te word. “Ek oefen baie ekstra ure en werk aan my fiksheid deur atletiek en landloop te doen. Charl Naudé is my atletiek-, landloop- en psigiese afrigter en hy het ‘n groot aandeel in my sukses. Hy rig my reeds vanaf gr. 5 af en hou nooit op om my te motiveer om te droom nie.”

Die donkerkop het haar skeidregtersgradering en sal graag haar skeidsregtervermoë wil opskerp en vestig. “Ek glo dat enige speler die reëls van die spel goed moet ken en dat selfdissipline op die veld van uiterste belang is.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button