Trane en sweet die moeite werd
Na net twee kompetisies, is ons eie blondekop, Nicky Nel gekies om Mpumalanga by die Suid-Afrikaanse Liggaamsboukampioenskappe te verteenwoordig.

Die 21-jarige het die afgelope naweek aan die provinsiale kampioenskappe van die International Federation of Bodybuilding and Fitness (IFBB) deelgeneem waar sy nie net eerste in haar groep geplaas het nie, maar ook as die algehele wenner in die bikini-afdeling aangewys is.
“Ek kan nie beskryf nie hoe gelukkig ek is nie. Al die harde werk, trane en sweet maak nie meer saak nie. Ek sê daagliks vir die Here dankie dat hy my met so ‘n wonderlike talent geseën het.”
Die kampioenskappe vind aan die begin van September plaas en Nel wil graag haar alles gee en haar provinsie se naam hooghou. “Ek is deel van ‘n wonderlike span en kan nie wag om die pad saam met hulle te stap nie. Ek glo daar sal nog baie van my gesien en gehoor word. Ek moet self nog baie leer, maar dit is iets wat ek elke dag doen. Mens is nooit te jonk of te oud om gesond te lewe nie en ek wil ander mense motiveer om ‘n gesonder leefstyl te handhaaf.”
Lees ook: Liggaamsbou maak deure oop na roem






























