Dissipline kniehalter Pumas
Die Steval Pumas kan net hulself blameer vir 'n gebrek aan dissipline wat strafdrieë tot gevolg gehad het in die tweede ronde van die Absa Curriebekerkragmeting.
Die Xerox Goue Leeus het die katgeveg 44-27 op Emirates Airline Park in Johannesburg gewen, maar maklik en oortuigend was dit nie. Twee strafdrieë en twee foute wat dalk verhoed kon word, het die Pumas se uitstappie versuur.
Die skeidsregter, Stuart Berry het die Pumaskrum gestraf, en veral vir Kwezi Mona, onder meer toe die eerste strafdrie aan die Johannesburgers toegeken is.

Die buitesenter, Harold Vorster, die linker-vleuel, Courtnall Skosan en die senter Stokkies Hanekom het elk drieë vir die Leeus aangeteken. Marnitz Boshoff, wat sy skopstryd met JC Roos gerieflik gewen het, het vir die tweede keer in twee weke met al sy skoppe pale toe geslaag en ‘n totaal van 19 punte aangeteken. Die woelige flank, Marnus Schoeman het vir sy derde drie in net twee wedstryde oorgeduik met Bernado Botha (regter vleuel) en die kaptein Stefan Watermeyer wat onder die doelpale gaan kuier het.
Die Pumas is aansienlik meer mededingend as verlede jaar, veral met sommige van die spelers wat ‘n smakie van Superrugby gekry het.

Die manne kom die naweek dalk met hul ysterslot, Rudi Mathee teen die OP Kings in Nelson Mandela-baai te staan.
Watermeyer het ‘n kneusplek aan sy bobeen en het net gister se oefening uitgesit terwyl Marius Coetzer ‘n graad-twee kneusplek die afgelope naweek opgedoen het. ‘n Finale besluit oor sy beskikbaarheid sal Woensdag geneem word.
Pumas 27 (10) Drieë: Marnus Schoeman, Bernado Botha, Stefan Watermeyer. Doelskoppe: JC Roos (3). Strafskoppe: Roos (2).
Leeus 44 (20) Strafdrieë (2): Courtnall Skosan, Harold Vorster, Stokkies Hanekom. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (5).
Strafskoppe: Boshoff (2). Skepskop: Boshoff.
Punteleer na die tweede ronde
1. Vodacom Blou Bulle – 10
2. Xerox Goue Leeus – 10
3. DHL Westelike Provinsie – 9
4. Cell C Sharks – 5
5. Steval Pumas – 4
6. Toyota Vrystaat Cheetahs – 1
7. OP Kings – 1
8. ORC Griekwas – 0.
