Local sportSport

Mathee en Fourie terug vir Pumas

Alle oë sal vanaand op die Steval Pumas wees wanneer hulle teen die OP Kings in die Absa Curriebekerstryd op Nelson Mandela Baai Stadion in Port Elizabeth te staan kom.

Hulle het verlede jaar in hul laaste kragmeting van die reeks teen dié einste span van die Baai vasgeval.

Die slot, Rudi Mathee is terug in die Pumas-span met Giant Mtyanda wat na die plaasvervangersbank skuif waar hy as impakspeler gebruik gaan word. “Dit was van die begin af ons plan om met Rudi te begin, maar ‘n rits beserings het hom uit die spel gehou,” sê die Pumas-breier, MJ Mentz.

Die Superrugbyspeler, Corné Fourie sal op loskopstut vir die Pienktruie begin, terwyl Khwezi Mona die nommerdrie-trui oor sy kop trek. Mentz sê dat hy nie tevrede met die Pumas se skrums teen die Lions was nie, maar hoop dat Fourie die nodige stabiliteit sal gee.

Jason-Colin Fraser het die geleentheid om sy stempel op nommer-8 af te druk met die dat Lambert Groenewald sy duim in die stryd teen die Xerox Goue Leeus gebreek het. “Lambert weet self nie wanneer dit gebeur het nie. Hy het net op ‘n stadium afgekom en gekla sy hand is seer. Dit is ‘n vier tot ses weke besering. Jason het baie goed gedoen toe hy opgekom het en dit is nou sy kans om homself op agsteman te bewys.”

Marius Coetzer het gedurende die week van ‘n harde hou teen die been gekla, maar die mediese personeel van die Pumas is tevrede met sy vordering. Mits die slot nie speel nie word Jannie Stander op die plaasvervangersbank ingespan.

Vir die derde agtereenvolgende week is daar geen nuwe gesigte in die agterlyn nie. “Verlede week was ‘n snaakse wedstryd. Ek dink nie ons spelers het enigsins ‘n kans gekry om te wys wat hulle op die aanval kan doen nie. Ek het volle vertroue in hulle en ek hoop met dié wedstryd gaan die agterlyn die bal meer wyd versprei. Die Kings in die Baai is nooit maklik nie. Ons kan hulle nie onderskat nie.”

Die Kings het ervare spelers soos Luke Watson en Ronnie Cook en is ietwat ongelukkig dat George (knie) en Tim (harsingskudding) Whitehead as gevolg van beserings nie kan speel nie. Jacques Engelbrecht is terug in die OP se beginspan.

Hy vervang Michael Willemse in een van drie veranderinge. JP du Plessis skuif 12 toe terwyl Karlo Aspeling op losskakel begin met Elgar Watts en Gary van Aswegen steeds op die krukkerlys.

Steval Pumas
15. JW Bell
14. Bernado Botha
13. Dewald Pretorius
12. Stefan Watermeyer
11. Rosko Specman
10. JC Roos
9. Faf de Klerk
8. Jason-Colin Fraser
7. Uzair Cassiem
6. Marnus Schoeman
5. Marius Coetzer
4. Rudi Mathee
3. Khwezi Mona
2. Frank Herne
1. Corné Fourie

Plaasvervangersbank
16. Francois du Toit
17. De-Jay Terblanche
18. Giant Mtyanda
19. Jaco Bouwer
20. Reynier van Rooyen
21. Justin van Staden
22. Hoffman Maritz.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button