JC Roos is ‘n doring in OP Kings se vlees
Danksy 'n mislukte skepskop-poging reg voor die pale van die OP Kings se Karlo Aspeling, het die Steval Pumas 'n oorwinning van 15-13 in Nelson Mandelabaai-stadion behaal.
Die tuisspan het in die laaste minuut van die Absa Curriebeker-wedstryd van die Pumas se gebied gehardloop met Aspeling wat die skop verbrou het.
“Ons is baie verlig na Vrydag-aand. Dit was ‘n moeilike wedstryd met ‘n nat bal waar die spanne mekaar gas gegee het,” meen die Pumasbreier, MJ Mentz.
Danksy die losskakel van die besoekers, JC Roos, lê die Pumas tans in die vierde plek op die punteleer met agt punte. Die Vodacom Blou Bulle is eerste met 15 na hulle wegholoorwinning van 47-29 oor die DHL Westelike Provinsie. “Ek dink dit was ‘n wedstryd van verspeelde kanse. Ons het goeie balbesit gehad en baie geleenthede vir onsself geskep, maar ons kon nie afrond nie.”
Die enigste drie van die wedstryd is in die 61ste minuut deur die Kings se Lizo Gqoboka gedruk.
Die kaptein, Stefan Watermeyer, JJ Breet en die losskakel, Justin van Staden is vir ‘n paar dae weens griep afgeboek. Die Pumas kom Vrydagaand weer teen die Xerox Goue Leeus in Mbombela Stadion te staan. In die twee spanne se vorige ontmoeting op Emirates Airline-park, het die Pumas 44-27 verloor. “Ons sien baie uit na Vrydagaand en ons is dankbaar dat ons geen spelers aan beserings na die afgelope naweek moet afstaan nie.”
So lyk die Laeveld se rugbyprogram
Donderdag
• Die Steval Pumas Renegades speel om 19:00 teen die Pumas Laeveld by Witrivier Rugbyklub.
Vrydag
• 13:00 – Pumas-vroue vs. Leeus-vroue
• 14:30 – Pumas o/19 vs. Boland o/19
• 16:20 – Pumas o/21 vs. Boland o/21
• 19:00 – Pumas vs. Leeus.
