Kinderwelsyn baat by onbaatsugtige gholspelers
Die jaarlikse gholfdag samel fondse in vir die plaaslike tak van Child Welfare.

Die jaarlikse Peter Cruse Gholfdag ten bate van Child Welfare Nelspruit het Vrydag byna‘n vol veld vierbalspelers na Matumi gelok.
Dié welsynorganisasie sien om na kwesbare kinders en hulle gesinne deur nie net te help met kospakkies nie, maar ook met ander noodsaaklikhede soos skooluniforms.
Penny-Jane Tredgold sê die grootste voordeel van die gholfdag is die publisiteit wat dit die organisasie gee.
Hoewel die fondse help, beloop hulle salarisuitgawes vir die personeel alleen R120 000 per maand.
Hulle bied vakansieprogramme aan, gee kinders voorligting oor hulle regte, hoe om hulself te beskerm en moedig hulle aan om misbruik te rapporteer.
Kantoorbestuurder Nomfundo Myeza verduidelik hulle voorsien ook kos aan weeshuise en armoedige huishoudings, veral kwesbare gesinne wat nog in die proses is om welsyngeld van die regering af te begin ontvang sowel as kinderhuishoudings, waar ouer kinders as die versorgers van hulle jonger sibbe moet instaan.
Volgens Myeza kyk Child Welfare tans na sowat 30 gesinne met 48 volwassenes en 83 kinders in Mbombela en omliggende areas.
- Sien meer foto’s van die jaarlikse Peter Cruse gholfdag vir Child Welfare hier.
