Knox trap stof in opponente se oë by Nkomazi MTB
Die here Malalane-gemeenskap het gehelp om die uitdaging ‘n sukses te maak vir die 425 deelnemers aan die 2015 Nkomazi MTB.
Die spesialis bergfietsryer Max Knox, het stof in sy teenstanders se oë gery tydens die jaarlikse Nkomazi MTB uitdaging die afgelope naweek.
Hy kon die 65 kilometer wedren wen in ‘n tyd van 2:34:36, amper ses minute vinniger as sy naaste teenstander.
Alan Gordon was tweede met 2:40:18 en JP Jung derde in ‘n tyd van 2:43:43.
Die veteraan-ryer Herman van der Westhuizen kon met 2:51:50 vierde eindig voor jonger ryers. Amy Beth McDougall se 3:09:13 het haar die vinnigste vrou oor dié afstand gemaak.

‘n Junior, die 18-jarige Franco Pelser, was met ‘n tyd van 1:14:35 oor die 35 kilometer slegs ‘n paar sekondes vinniger as Armand Lombard (16) wat tweede klaargemaak het in 1:14:39.
Die vyftienjarige Ryan Terry het gevolg in 1:16:26 en Keegan Clark (16) in 1:16:28. Die vinnigste vroueryer was die veertienjarige Zandri Strydom met 01:24:43 wat algeheel 16de kon eindig.
Nagegoeg 425 deelnemers het die 65 kilometer, 35 kilomter en 10 kilometer wedrenne voltooi en die Malalane-gemeenskap het saamgestaan om dit die sukses te maak wat dit was.
Adéle Geldenhuys, senior vrouewenner van die 35 kilometer het gesê die roete was nie té moeilik nie.
“Dit was nogal plat, maar daar was tegniese dele.” Sy voeg by dat sy gereeld by Mankele oefen, en “na dit is alles maklik”.
https://vine.co/v/eIA9zFdOhOn
Dirk Lourens van Lourens Cycles in Hectorspruit het die roetes uitgewerk en die baan gebou.
Dit het oor verskeie plase geloop waar die boere hul grond beskikbaar gestel het. Plaaswerkers het ook gehelp deur as baanopsieners op te tree.
Jan Delport van Lowveld Cycling, wat die veteraanmans-afdeling oor die 65 kilometer gewen het, het gesê die waterpunte was besonder goed uitmekaar geplaas.
Dis deur Kimmy Bezuidenhout gereël en die water is deur Pure Water & Pine voorsien.
Verteenwoordigers van Riverview Prep School, Red Falcon Spur, Buco Malalane, Impala Kunsmis Hectorspruit, Onderberg Verwerkingskooperasie, Supaquick, Safeway en 21st Century Properties het ingespring om die sewe waterpunte op die roetes te beman en so die ryers gehidreer te hou op die warm somersdag so aan die einde van Augustus.

By die eindpunt was daar lafenis in die koelte en yskoue nattigheid vir die keel.
“My fiksheid is nie wat dit moet wees nie en gereelde opponente, meestal vroue 15 tot 20 jaar jonger as ek, het vir my weggery,” sê Delport.
“Maar die kompetisie in my kategorie het óf nie opgedaag nie, óf aan ‘n korter afstand deelgeneem, óf probleme ondervind op die roete, so ek het die prysgeld gewen, wat nie baie gereeld gebeur nie.
“Ek is baie dankbaar en geniet die oomblik.”
Die pret het al die Vrydagaand afgeskop met ‘n musiekfees wat deur die Hervormde Kerk gereël is. Stalletjiehouers en kosverkopers het die Saterdag die skoolterrein gesellig en feestelik gemaak.

Ryers is ook voorsien van geskenkpakkies en kon in gelukkige trekkings pryse wen. Securicon en Noodroep het die ambulanse beman, maar gelukkig is geen ernstige beserings aangemeld nie. Hi-Tech Sekuriteit Malalane en die Malalane Verkeersdepartement het verder gesorg dat alles vlot verloop.
Die personeel en ouers van Laerskool Malelane het gehelp met administrasie, registrasie en inskrywings.

Carine van der Westhuizen van Laerskool Malalane het vir Johan Horn van Malalane Toyota uitgesonder vir die groot borgskap wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het en Lindi Coetzee wat help organiseer het.
“Baie dankie aan die Malalane gemeenskap wat betrokke geraak het en ‘n bydrae gemaak het tot die yslike sukses van die geleentheid,” sê sy. “Ons maak volgende jaar weer so!”
- Sien meer foto’s van die Nkomazi MTB 2015 hier.
- Sien die volledige uitslae hier:
