Local sportSport

Pumas maak hul gereed vir ‘n baie fisieke aanslag

Die veelsydige agterspeler van die Steval Pumas, Hoffman Maritz en die Springbokstut, Vincent Koch is in die beginspan ingesluit vir die vyfde ronde van die Absa Curriebekerkragmeting teen die Cell C Sharks op Kingspark in Durban hierdie naweek.

Maritz het reeds twee wedstryde van die bank af gespeel en kry Saterdag kans op buitesenter en nie op heelagter waar hy gewoonlik speel nie.

“Hy bring iets spesiaal na die aanval en verdediging toe. Ons kort kreatiwteit in die agterlyn,” vertel die Pumasbreier, MJ Mentz.

Met Koch en Corné Fourie in die voorry, behoort dit in die skrums heelwat beter met die Pumas te gaan. Jaco Bouwer kry weer ‘n kans as oopkantflank en Marnus Schoeman, wie die Sharks in die eerste wedstryde gesink het, is op die bank. “Marnus en Jaco is baie dieselfde spelers. Jaco het baie goed geoefen die afgelope paar weke en as gevolg van omstandighede het Marnus ‘n stil wedstryd teen die Leeus gehad.”

Frankie Herne is nie vir die span oorweeg nie, met Jacques Momberg wat begin en Francois du Toit wat as plaasvervanger ingesluit is. Die Pumas is met vier geelkaarte in hulle wedstryd teen die Leeus gestraf. “Dissipline is op die stadium vir ons ‘n groot kopseer. Ons sal nie ‘n faktor in die kompetisie wees as ons aanhou so speel nie.”

Dié twee spanne het mekaar vroeër in die reeks ontmoet, maar die Pumas verwag ‘n ander Sharksspan. “Ons verwag ‘n baie meer fisieke aanslag, veral van die senters af. Hulle lynstane is baie goed en dit het ons met die Kings gesien.”

Nóg ‘n Springbok, Cobus Reinach sal vir die Haaie uitdraf en sal beslis ‘n punt vir die keurders bewys dat hulle moontlik ‘n fout gemaak het met sy weglating in die span wat later die maand in Engeland Rugby Wêreldbeker toe gaan. “Hy bring ‘n ander aanslag vir die span. Hy is baie vinnig om die balle na sy spelers te voer en die bal skoon te maak. Ons gaan ‘n groot uitdaging op ons hande hê die naweek.”

Die breier van die Sharks, Gary Gold het ‘n opmerking gemaak dat die Pumas nie juis ingewikkelde rugby speel nie. “Daar is geen innoverende, taktiese rugby in ons afgelope twee wedstryde gesien nie. Bloot die feit dat ons nie ons eerste fase balle gekry het nie. Met bal in hand kan enige span meer doeltreffend aanval. Ons sal vra moet vrae oor ons verdediging.”

Pumasspan
15. JW Bell
14. Bernado Botha
13. Hoffman Maritz
12. Stefan Watermeyer
11. Rosko Specman
10. JC Roos
9. Faf de Klerk
8. Jason-Colin Fraser
7. Uzair Cassiem
6. Jaco Bouwer
5. Marius Coetzer
4. Rudi Mathee
3. Vincent Koch
2. Jacques Momberg
1. Corné Fourie

Plaasvervangersbank
16. Francois du Toit
17. De-Jay Terblanche
18. Khwezi Mona
19. Giant Mtyanda
20. Marnus Schoeman
21. Justin van Staden
22. Jerome Pretorius.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button