Mbombela gereed vir groot rugby-aksie die week
Die APC Noord Imperial Toyota Nelspruit toernooi vind vanaf Maandag by Nelspruit Rugbyklub plaas.
Die klubrugbyseisoen is skaars klaar en die spelers, wat onlangs nog opponente was, staar hul saamgestelde span se grootste uitdaging in die gesig.
Vanjaar het die Mpumalanga Rugbyunie die geleentheid om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se amateur provinsiale kampioenskappe (APC) aan te bied.
Dit is die hoogtepunt van klubspelers se seisoen en bied amateurspelers die kans om provinsiaal mee te ding. Die APC Noord Imperial Toyota Nelspruit toernooi skop Maandag by Nelspruit Rugbyklub af. Daar sal ook op Woensdag westryde gespeel word. Die eindstryd is Vrydag.
Buiten die Pumas Laeveld sal die Pumas Hoëveld, Leeus, Limpopo Blou Bulle, Blou Bulle, Blou Bulle Uitnodiging XV, Valke en Luiperds volgende week in aksie wees.
Verlede jaar het die Luiperdspan die titel in Polokwane gewen, maar afrigter Reghardt Meyer van Malalane Rugbyklub het verlede week na die Laeveldspan se oefenwedstryd teen die Steval Pumas Renegades gesê hy is tevrede dat sy span goed lyk.
Die Pumas Laeveldspan is, van Witrivier Rugbyklub: Jacques Kotze, Christaan Labuschagne, Christo le Roux, Clive van Zyl, Tiaan Marx, Pule Sibiya, Deon Stoltz, Christo Lategan, Johannes Jonker, Francois Koch, Theo Kruger, Cobus Janse van Rensburg; van Nelspruit Rugbyklub: Willie du Plooy, Wiaan Pretorius, Gary Visagie, Jacques Viljoen, Jean Botha, Damien Janse van Rensburg, Lloyd Malatji, Niel Manley, Nigel Nel; van Barberton: Hans Meyer; van Ferros: Willem Kotze; van Hazyview: Hansie Grobler en van Malalane: Marnus Marais.
Alle wedstryde word by Nelspruit Rugbyklub gespeel. Toegang is gratis. Die week se program sal bepaal word deur die uitslae op die eerste dag. Wedstrydtye sal deurlopend dieselfde bly.
Maandag se program lyk só:
• 13:00 – Leeus vs Limpopo Blou Bulle
• 15:00 – Luiperds vs Blou Bulle Uitnodiging XV
• 17:00 – Pumas Hoëveld vs Blou Bulle
- Lees meer oor die Pumas Laeveld se opwarmingswedstryd teen die Steval Pumas Renegades hier.
