Witrivier se hokkiespelers deur na eindstryd
Laerskool Witrivier se o/13-seunshokkiespan het as naaswenners uit hul poel getree en speel die naweek in die uitspele van Mpumalanga.

Die 0/11 hokkiedogters het as poelwenners deurgedring na die Ehlanzeni-uitspele waar hulle as naaswenners geeïndig het.
Hulle lê nou eerste van die 0/11 spanne wat op 18 en 19 September aan die Mpumalanga-eindstryd in Witbank deelneem.
Dié 0/11 span het Witrivier se naam hoog gehou deur die seisoen. In die eerste ligawedstryd teen Uplands was hulle teen rustyd 0-2 agter. Die span het pragtig saamgewerk in die tweede helfte en twee doele geskiet om die wedstryd gelykop te laat eindig.
In die volgende ligawedstryd het die span met 10-0 geseëvier. Na die uitspele van Woensdag 2 September eindig al drie spanne van Witrivier, Curro en Penryn gelykop en moet hulle deelneem aan die “8 seconds” wat bepaal wie gaan na die volgende ronde vorder.
Witrivier se 0/11 seuns het gewys hulle het senuwees van staal en vorder saam met Penryn se seuns na die uitspele teen die hoëveldse skole.

