Robbie behou oorhand en stap weg met die titel
Franco Pelser van Mopani Apteek het nie net Saterdag in die laaste ronde van die Das Auto Bergfietsren wat by Penryn College plaasgevind het, die oorhand gehad nie, maar is ook as die algehele wenner gekroon.

Dié 18-jarige van Hoërskool Rob Ferreira het Saterdag in ongunstige weersomstandighede die 50km wedren in 02:05:04 voltooi. Sy beste tyd uit die vyf wedrenne was 01:49:35 wat hy in die vierde ronde opgestel het. Christo Carelsen, ook van Mopani, was tweede in 02:08:58 gevolg deur Nohan van Tonder in 02:09:00.
Alhoewel Liam de Klerk (17) Saterdag met ‘n vierde plek tevrede moes wees, het hy algeheel tweede geëindig.
Die 16-jarige Armand Lombard was in die jeugkategorie eerste oor die eindstreep in die 25km in 01:00:51. Hy het aan drie van die vyf wedrenne deelgeneem en 21 punte ingesamel.
James Goosen (18) met 28 punte het boaan die punteleer geëindig en was Saterdag eerste in die junior kategorie in 01:03:43.
Dit was ‘n naelbytstryd in die vrouekategorie tussen Mandie Swart en Sharon Bell. Swart, die 2015 Spur Skolereeks-wenner het drie sekondes vinniger as Bell in 01:21:53 klaargemaak. Met 21 punte het sy die algehele wennersprys verower.
Die vinnigste fietsryer in die 15km, was Rueben Liebenberg (mans-ope) met ‘n blitsvinnige tyd van 38:51. Kort op sy hakke in net twee sekondes later, was Zandi Strydom (sprog).
Liebenberg en Strydom is albei as algehele wenners in hul kategorie aangewys.


