Jong speler maak sy merk op die setperk
Die Tier se aanhoudende brul het 'n lus vir die spel in Brandon-Lee Geere gekweek.
Dié 15-jarige is onlangs tot die o/19-interprovinsiale gholfspan verkies waar hy ook sy erekleure van die Mpumalanga Gholf-unie ontvang het. Gedurende Laeveld die Gholf Unie se algemene jaarvergadering, het hy ook die trofee vir die Laeveld Gholf Assossiasie se Junior Speler van die Jaar 2015 ontvang.
Hy is tans tweede gekeur in Mpumalanga en die enigste speler van Mbombela wat sy provinsie in Desember in die Wes-Kaap gaan verteenwoordig. Hy tans 46ste volgens die nasionale orde van meriete vir o/17’s en 108ste vir juniors gekeur. Alhoewel hy vir die o/17’s speel, is hy reeds vir die ouer groep gekies.
“Toe ek in gr. 7 my eerste toernooi op Witrivier gewen het, het ek net harder gewerk om nóg toernooie te wen. Ek is verstandelik sterk op die baan en my kortspel is van my beste eienskappe,” sê Brandon.

Sy pa, Nickey vertel dat hulle reeds Brandon se eerste plastiekgholfstokke gekoop het toe hy twee jaar oud was. “Drie jaar later het hy sy eerste ‘Little Tiger’-stel gekry. Ek en my vrou, Sanet speel self jaarliks in die Nelspruit-liga.”
Toe daar aan Brandon gevra word wie sy gunstelingspeler van alle tye is, het hy sonder om te huiwer, Tiger Woods geantwoord. “Die manier hoe hy altyd terugkom uit moeilike situasies maak hom spesiaal. Hy speel houe wat niemand eers aan kan dink nie.”
As gr. 9-leerder van Hoërskool Nelspruit het hy ‘n plakkaat teen sy kamermuur met doelwitte soos om die IPT-span te haal, om van ‘n twee-voorgee af te speel én natuurlik om saam met Woods op die Augusta Gholfbaan in Georgia te speel. ‘n Jaar later het hy reeds twee van die mikpunte behaal. Wie weet? Dalk stap hy nog eendag met ‘n stok in die hand saam met die Amerikaanse ster op dié wêreldbekende baan.

Hy het na aanleiding van die volgende prestasies die spogtrofee ontvang:
• Verteenwoordig o/19-span by Mpumalanga Quads by Nelspruit
• Verteenwoordig o/19’s by Gauteng Noord Quads by Waterkloof
• Verteenwoordig o/17’s heptagonaal by ERPM-gholfklub
• Verteenwoordig SA o/19’s by Polokwane
• Verteenwoordig SA o/17’s by Bushwillow.
