Local sportSport

Pumas moet hulle regruk

"Dit is glad nie hoe ek 'n Pumasspan ken nie. Dit is onaanvaarbaar om so te speel."

So het ‘n terneergedrukte breier, MJ Mentz Maandag na die afgelope naweek se wedstryd teen die ORC Griekwas gesê.

Die Poubloues het Saterdag hul eerste oorwinning van die Absa Curriebeker behaal deur ‘n sukkelende Pumasspan in Kimberley 32-15 kaf te draf.

Die besoekers was beslis die gunstelinge om te wen aangesien hulle sedert 2011 drie oorwinnings in Kimberley behaal het, maar met dié sege van die tuisspan het hulle selfs ‘n bonuspunt-drie aangeteken.

Die kaptein, Faf de Klerk is in die 30ste minuut met ‘n geelkaart koelkas toe gestuur nadat hy ‘n speler sonder die bal geloop het. Dit is die Pumas se vierde geelkaart na net vyf wedstryde. Die Laevelders het ook twee rooikaarte.

Net die blondekop-flank, Marnus Schoeman en die vlugvoetige vleuel, Rosko Specman kon vir vyfpunters oorduik. Schoeman het net Maandag se oefening uitgesit weens ‘n stampplek teen die elmboog en bobeen.

Die Pumas sit met ‘n kopseer op heelagter met JW Bell wat weens ‘n besering twee weke gelede in Durban teen die Cell C Sharks nie oorweeg word nie én Hoffman Maritz wat moontlik met ‘n gebreekte vinger sit.

Die Pumas kom Vrydagaand teen die OP Kings te staan wat die naweek ook ‘n onverwagse oorwinning behaal het, nadat hulle met 32-24 baas van die Cheetahs in die Nelson Mandelabaai-stadion was.

“Ons is baie teleurgesteld oor die naweek, met die manier waarop ons gespeel het en met al die hanteringsfoute en geleenthede wat ons nie gebruik het nie. Ons het glad nie vir die wedstryd opgedaag nie. Dit is glad nie hoe ek ‘n Pumasspan ken nie, maar ons vat verantwoordelikheid daarvoor. Ek kan nie sê ons gaan moet leer uit ons foute nie, ons sal eenvoudig net beter moet speel. Daar lê harde werk voor en ons gaan onsself moet regruk.”

Puntemakers:
ORC Griekwas: Drieë: Carel Greeff (2), Jaquin Jansen, Jonathan Janse van Rensburg. Doelskoppe: Clinton Swart (3). Strafskoppe: Swart (2)
Steval Pumas: Drieë: Marnus Schoeman, Rosko Specman. Doelskop: Justin van Staden. Strafskop: Van Staden.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button