Pumas verdien respek vir poging
Hoewel die Laeveld Pumas nie Vrydag die mas teen die Blou Bulle by Nelspruit Rugbyklub kon opkom nie, is geskiedenis weer eens reg op ons voorstoep gemaak.

Hoewel die Laeveld Pumas nie Vrydag die mas teen die Blou Bulle by Nelspruit Rugbyklub kon opkom nie, is geskiedenis weer eens reg op ons voorstoep gemaak.
Dit is die eerste keer wat die tuisspan die eindstryd van die Noordelike Provinsiale Amateurkampioenskap haal, en hoewel die telling 35-10 was, verdien hulle steeds ‘n klop op die skouer nadat hulle tot die einde baklei het.
Volgens afrigter Gunther Swart, het dié span elke geleentheid aangegryp om uitstaande rugby te speel. “Die spelers se gesindheid teenoor mekaar het gewys dat hulle honger was vir sukses,” het Swart vertel.
Met rotsvaste verdediging, het die eerste 40 minute aan die tuisspan behoort, maar toe die fluitjie na rustyd blaas, het die besoekers met ‘n fel teenaanval teruggekeer wat die wind uit die Pumas se seile geneem het.
Was dit nie vir die reusesukses van dié span se seisoen nie, sou hulle nooit die eindstryd kon haal nie. Hulle het tot en met dié wedstryd slegs twee drieë teen die Valke en Leeus afgestaan – unies wat verlede jaar tweede en derde geëindig het.
Die voorspelers het die grondslag vir die agterspelers gelê om punte aan te teken. Deur hierdie wedstrydplan het die opposisie telkemale in die skrums en losgemale gevou, wat uitstekende hardlooprugby in die agterlyn opgelewer het.
Die feit dat die beste twee klubs in Mpumalanga, Witrivier en Nelspruit ook ‘n maand gelede in ‘n eindstryd teen mekaar sake uitgespook het, het die tuisspan in ‘n gunstige posisie geplaas om die beste moontlike span met dit uitsondering van enkelinge beserings op die veld te kan stuur.
Pumasspanbestuurder Bennie Pringle sê die feit dat hulle vir die eerste
55 minute van die wedstryd elke moontlike aanval afgeweer het en verskeie kere die opposisie byna uit hul skoene geduik het, het ‘n kopseer vir die afrigtingspan veroorsaak. Hy voeg egter by dat verkeerde besluitnemings en onbenutte geleenthede om punte aan te teken terwyl twee van die teenstanders se spelers in die koelkas was, tot die nederlaag gelei het. Hy gee graag krediet aan die besoekers wat hulle huiswerk deeglik gedoen het. “Hulle was onbreekbaar op die verdediging en het ons op ons foute uitgebuit, en met omkeerbesit kon hulle drie maal die lengte van die veld hardloop en agter die pale gaan kuier.”
“Ons vaste fasette was baie goed en hier het ons die Pumas onder groot druk geplaas,” sê Pote Human, afrigter van die Bulle. Desnieteenstaande is die afrigtingspan van die Pumas se verwagtinge heeltemal oortref deur talle spelers wat bymekaargekom het en alles op die spel geplaas het. “Ons kan onsself net bevoorreg ag om deel van so ‘n talentvolle en gemotiveerde groep spelers te kon wees,” sê Pringle. Die tafel is nou gedek en hy en Swart glo dat dit wat die span die week vermag het, die toekomstige spelers en afrigters sal laat besef dat dit ‘n trots moet wees om jou unie op die hoogste amateurvlak te kan verteenwoordig. Daardie besef moet ook in ‘n begeerte omskakel om die beker vir die Laeveld huis toe te bring.
Die Bulle kom volgende naweek teen Boland in Wellington te staan en deur ‘n kragmeting teen die wenners van die sentrale streek op 10 Oktober op Loftus gevolg, waarna die nasionale wenners bepaal sal word.






