Ons eie Nicky eindig onder land se bestes
Na net ses maande se deelname aan liggaamsboukompetisies, is Nicky Nel (21) uitgenooi om volgende jaar aan die Arnold Classic Suid-Afrika deel te neem.
Dit nadat sy onlangs onder die top-10 in die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe geëindig het.
“Dit was beslis een van my moeilikste kompetisies waarvoor ek moes voorberei. Ek stap voor sonop by die huis uit en kom eers saans terug. Ek het daardie oggend tydens die registrasie soos ou brood gevoel.
“Ek was ontwater en het geen krag gehad nie.”
Nicky vertel ook dat sy die volgende oggend duiselig was en vreeslik krampe gekry het.
“Ek het nie geweet hoe ek op die verhoog gaan stap nie. Ek het ‘n stukkie sjokolade geëet en daarna het selfs my kuite krampe gehad – iets wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie.
“Ons was tussen 15 en 18 liggaambouers op die verhoog. Van daardie deelnemers het al voorheen aan dié kompetisie deelgeneem en presies geweet wat om te verwag. Ek het nie gegaan om te wen nie, maar om myself te geniet.”
Tot haar verbasing was sy onder die top-10 geplaas.
Later die aand was dit tyd vir die hoofvertoning. “Ek het teen daardie tyd baie beter gevoel en kon nie wag om weer op die verhoog te stap nie. Ek was soos ‘n kleuter wat ‘n lekkertjie gekry het,” lag sy.

Toe die wenners aangekondig word, is Nel se naam uitgelees om aan die internasionale kompetisie deel te neem wat volgende jaar in Mei in Sandton, Johannesburg plaasvind. “Die einste Arnold Schwarzenegger gaan ook daar wees en dis nou iets waarna ek uitsien.”
Oor die 10 000 mense gaan oor drie dae in 45 verskillende kodes op die verhoog wees.
Lees meer oor Nicky Nel:
Liggaamsbou maak deure oop na roem
Trane en sweet die moeite werd
