Pumas kraai koning in glibberige stryd met Kings
Die Steval Pumas het Vrydagaand op Mbombela Stadion hul tweede oorwinning in die Absa Curriebeker-reeks behaal toe hulle teen die OP Kings met 20-9 geseëvier het.

Die tuisspan het na Vrydag se wedstryd vyfde op die punteleer gelê, maar met die dat die Toyota Vrystaat Cheetahs die ORC Griekwas geklop het, beklee die Pumas steeds die sesde plek met 13 punte.
Aanhoudende reën en ‘n glibberige bal het sake vir albei spanne moeilik gemaak. “Ons is baie verlig en dankbaar vir die wen.
Dit was moeilike omstandighede met die nat bal, maar ek dink ons het goed aangepas en baie druk op ons opponente geplaas,” het die breier MJ Mentz gesê.
Die Pumas kan net hulself blameer dat hulle nie ‘n bonuspunt uit die kragmeting gekry het nie. “Die feit dat ons nie ‘n bonuspunt uit die wedstryd gekry het nie, laat ‘n suur smaak in die mond, maar ons vat ‘n wen enige dag teen ‘n goeie Kingspan.”
Die een uitsondering na Vrydagaand se wedstryd, was die Pumas-agtsteman Jason-Colin Fraser, wat as die speler van die wedstryd aangewys is en die eerste van sy span se drieë na ‘n perfekte aangee van Stefan Watermeyer gedruk het. Die flank, Marnus Schoeman het sy span se tweede drie in die 27ste minuut na ‘n dryfmaal gedruk vir sy 30ste drie in Curriebekerrugby.
Alhoewel net die Pumas drie punte in die tweede helfte kon aanteken, voel Mentz dat daar nie ‘n insinking in die spel was nie.
“Krediet aan albei spanne se verdediging. Agterlynspelers soos Jerome Pretorius en Rosko Speckman het goeie hardlooprugby gespeel.”
Die kaptein, Watermeyer, sal nie die week saam met sy spanmaats oefen nie weens ‘n geskeurde skenkelsening. Die heelagter, Hoffmann Maritz het net gister se oefening uitgesit as gevolg van ‘n geskeurde ligament in sy enkel en die Leeusstut, Corné Fourie sal moontlik ook nie beskikbaar wees nie as gevolg van ‘n skouerbesering.
“Ons besef die wedstryd die naweek gaan ‘n groot uitdaging wees. Die WP speel goeie rugby en het ‘n baie goeie Bulspan die naweek gewen. Ons gaan die naweek af Kaap toe met die wete dat ons op ons beste sal moet wees om enigsins ‘n kans teen hulle te staan.”
Die Pumas pak die naweek die DHL Westelike Provinsie in Kaapstad, wat derde op die punteleer met 24 punte lê.



