Local sportSport

Lebombo-skuts weer in die kol

Die Laeveld Jagtersvereniging se jaarlikse drie-geweer (multi-gun) intertak-sportskietkompetisie het op Saterdag 12 September in Komatipoort plaasgevind.

Die vereniging strek oor ‘n wye gebied, en spanne het van so ver as Gauteng en Piet Retief vir die dag opgeruk. ‘n Totaal van 74 skuts het deelgeneem.

Wat hierdie sport van die gewone langbaanskiet onderskei, is dat deelnemers met ‘n aantal taktiese scenarios gekonfronteer word.

Elke skut moet in staat wees om ‘n handwapen, haelgeweer en semi-outomatiese geweer akkuraat en vinnig in ‘n verskeidenheid uitdagende toestande te kan hanteer.

Uiters streng veiligheidstandaarde word gehandhaaf, met ‘n rooikaart vir sekere oortredings wat die deelnemer dadelik diskwalifiseer.

Die bane het die manne (en dames) se vernuf tot die uiterste beproef, en dit was duidelik dat deelnemers hard moes dink om die beste aanslag vir elkeen van die 10 bane te bepaal.

Daar is druk gekoukus onder die spanlede, en geleer uit elke fout.

Elkeen was bewus daarvan dat Lebombo-tak ‘n titel gehad het om te verdedig – die Nkomazi-manne het die afgelope jare telkens met die louere weggestap en was vasberade om dit weer te doen. Die spanning het hoog geloop met die verwerking van die 740 puntestate.

Die skuts het oor die algemeen hoë standaarde gehandhaaf en die uitslag was geensins voorspelbaar nie.

Wenners
Handwapen: Ronnie Gower.
Semi-outo-geweer: Ronnie Gower.
Driegeweer (multi-gun): Ronnie Gower.
Haelgeweer: Heinz Dirsuwei.
Seniors algeheel: Ronnie Gower.
Junior algeheel: Drotsky Pretorius.
Dames algeheel: Andrea Stevenson.
Seniors algeheel: Dewald Oberholzer.

Die spankompetisie word deur die gesamentlike puntetelling van die beste vier skuts in elke span bepaal.

Die uiteindelike wenners is aangekondig onder luide toejuiging: “Lebombo-tak, verteenwoordig deur Nico Nel,Thomas Holder, Hardus Snyman en Henk Benade hou die trofee vir nog ‘n jaar met Piet Retief tweede, gevolg deur Ermelo.”
Anton Appleton, voorsitter van Laeveld Jagters, het ter afsluiting die skuts vir hul deelname bedank.

Hy het die Lebombo-bestuur onder leiding van Braam Smith gelukgewens met die hoogstaande gehalte van die reëlings en baanuitleg.

Lebombo-tak bedank hiermee al die deelnemers vir hul toewyding en moeite om die lang pad Komatipoort toe aan te durf, asook vir Securicon Ambulansdienste vir die mediese bystand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button