Die beseringspook teister steeds die Steval Pumas
Faf de Klerk se boarmspier pla en Jason-Colin Fraser moes ook Maandag se oefening weens 'n stampplek teen die knie uitsit, maar beide behoort dié naweek in aksie te wees.
Die DHL Westelike Provinsie het die grootste telling in vanjaar se Absa Curriebeker behaal nadat hulle die Pumas 50-19 op Nuweland Saterdag in Kaapstad geklop het. Alhoewel die besoekers teen rustyd die oorhand gehad het, was individuele spelers wéér die oorsaak vir dié pak slae. “Dit was uit en uit ‘n wedstryd van twee helftes. Ons het in die eerste 40 minute goeie druk op WP uitgevoer en drie goeie drieë gedruk. Dit is kommerwekkend dat ons so sleg in die tweede helfte gevaar het. Daar was baie individuele foute wat ons opponente maklike drieë laat druk het,” sê breier van die Pumas, MJ Mentz.
Die eerste vyfpunter het van ‘n ses-meterlynstaan in die WP se doelgebied gekom. Na ses fases het Justin van Staden ‘n aangee van oor die 20 meter na sy vleuel Rosco Spekman gegee wat tot ‘n drie in die hoekvlag gelei het. In die 26ste minuut van ‘n dryfmaalbeweging het Vincent Koch oor die doellyn geduik. Die blitsige Spekman het kort voor rustyd weer gedruk na omgekeerde balbesit deur Corné Fourie van ‘n afskop.
Die Pumas het in die vaste fasette sonder lynstaanmeesters soos Rudi Mathee en De-Jay Terblanche swaar gekry. Met twee lynstane het die spelers nie gespring wanneer hulle moes nie en in die ander het hulle obstruksie in ‘n dryfmaalbeweging begaan wat moontlik tot 15 punte kon lei.
Koch was een van sy span se grootste uitblinkers – hy het 13 duikslae uitgevoer en nie een gemis nie. Fraser was ‘n aanspraakmaker in die losskrums waar hy 18 keer skoongemaak het en 10 keer die bal vorentoe gedra het. Daar kan ook melding aan Jerome Pretorius (12 duikslae uitgevoer en agt keer by die losgemale skoongemaak) asook Marnus Schoeman (22 keer by losgemale die bal uitgegee en 12 keer die bal gedra) gegee word.
Die spelontleder van die Pumas, Southy Steenkamp noem dat Hoffmann Maritz puik onder die hoë bal was. “Hy was beslis een van die twee topspelers in die wedstryd. Nie net was hy goed onder die hoë bal nie, maar hy was ook ‘n goeie baldraer.”
Die Pumas pak die naweek die Toyota Vrystaat Cheetahs in Mbombela en Mentz en sy trawante besef wat op die spel is.
“Saterdag is vir albei spanne ‘n uitklopwedstryd. Die een wat hier wen behoort ‘n goeie kans te staan om in die halfeindstryd te speel.”
Sedert 2000 speel die Pumas o/19’s en o/21’s in die halfeindstryd op tuisbodem. Die o/19’s pak die Valke om 10:30 en die o/21’s sal na die hoofwedstryd wat om 13:15 afskop, die Griekwas die stryd aansê.
