Atlete blink vroeg uit op die baan
Nagenoeg 600 atlete van 11 skole in die omgewing het Dinsdag aan die Mpumalanga Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Rob Ferreira deelgeneem ter voorbereiding vir die jaarlikse skouspel, die interlaer- en hoër 2016.

Atletiek Mpumalanga het in samewerking met Robbies dié dag as ‘n ontwikkelingsbyeenkoms vir die Laeveld geborg en dit sal ‘n jaarliks gebeurtenis op die kalender wees.
Die ster-atleet van Laerskool Laeveld, Ashaan Sebastian Greaver (12) het ‘n nuwe persoonlike beste afstand in die verspringput aangeteken toe hy ‘n lesing van 5,11 meter op die maatband laat lees het. Hy het vroeër vanjaar 4,94 meter gespring.
Adam Lesie (17) van Penryn College het ook goeie voorseisoentye in die 100-meter met 11,04 sekondes en in die 200-meter met 22,73 sekondes behaal.
Die naellopers van Robbies het met skittertye groot verwagtinge vir die seisoen geskep. Skosana Maphinga (14) het die 100-meter met ‘n tyd van 11,9 sekondes gewen en ook die 200-meter in 24,2 sekondes kafgedraf. Tanya Mashego het die 100- meter in 13,28 sekondes gewen en het ook ‘n goud in die 200-meter met ‘n tyd van 28,1 sekondes verower.
Barberton se Raymond Smuts spog met ‘n gooi van 15,41 meter in die gewigstoot,
KP de Jager van NHS, wat silwer gekry het, het nie sy beste afstand van die jaar gegooi nie en moes met ‘n 13,94 tevrede wees. Hy het in Maart 14,50 meter gestoot.
“Die opkoms was goed en dit kan ontwikkel in ‘n mooi byeenkoms – in sekere items was daar tot vyf lopies. Die atlete van Rob se volgende groot byeenkoms is teen 28 skole by die Marius Lengton-byeenkoms op 17 Oktober in Polokwane se Peter
Mokabastadion en ons neem ons 90 beste atlete soontoe. Hierdie byeenkoms het as goeie voorbereiding vir die seisoen gedien,” sê die atletiekorganiseerder van die gasheerskool, Stefan van der Merwe.
Die volgende byeenkoms waar plaaslike atlete in aksie gaan wees is die Triple J op 24 Oktober.
Die volgende skole was in aksie:
• Hoërskole Barberton, Nelspruit en Bergvlam sowel as Lowveld High Penryn College, Uplands College en Lydenburg
• Laerskole Nelspruit, Laeveld, Klipspringer en Witrivier sowel as Uplands Prep.













































