Dapper Pumas veg verbete terug
Dit was nie 'n wen nie, maar die manier waarop die Steval Pumas Saterdagmiddag hier op Mbombela Stadion teen die Toyota Vrystaat Cheetahs teruggeveg het, is vir die afrigter, MJ Mentz goed genoeg.

Die Pumas was nog in die 50ste minuut van die Absa Curriebekerkragmeting met 29-16 agter, maar na drie drieë deur onderskeidelik De-Jay Terblanche, Marnus Schoeman en Rudi Mathee en met Justin van Staden se skopskoen, het die prentjie begin kleur kry. Die besoekers se Freddy Ngoza het in die 74ste minuut vanuit ‘n lynstaandryf ‘n vyfpunter aangeteken, met Sias Ebersohn wat verdoel het. Kort voor die eindfluitjie geblaas het, het Mathee en sy agterspelers oor die doellyn geval.
Mentz is egter nie tevrede met die aantal drieë wat hulle aan die Cheetahs afgestaan het nie. “‘n Gelykop-telling is soos om jou suster te soen. Ons is in ‘n mate tevrede met die uitslag, maar krediet aan my manne oor hoe hulle teruggeveg het.”
Die Bloemfonteiners het hul vierde plek op die punteleer behou. Franco Smith, breier van die Cheetahs, het die Pumas na afloop van die kragmeting ook vir hul terugvegpoging geloof.
“Uit die aard van die saak was dit ‘n gelykop-uitslag, maar ons het eintlik verloor. Die Pumas het nooit opgehou glo nie, en dit is wat ek my spelers ook wil leer. Ons het ‘n klomp jong ouens, maar ons het gesê ons gaan hierdie jaar gebruik om te bou en te leer.”
Die Pumas speel Vrydag in hul laaste wedstryd van die seisoen tuis teen die Blou Bulle wat tans tweede op die punteleer met 34 punte lê. “Ons sien baie uit na ons laaste wedstryd. Ons wil graag die seisoen op ‘n hoogtepunt afsluit. Ons is positief en ons glo dat ons die wedstryd kan wen,” sê Mentz.
In ‘n mediese verslag deur die Pumas se fisioterapeut, Luzahn Louw, het Marius Coetzer (kraakbeen in knie en spanning in die skenkelsening), Jason-Colin Fraser (quad-kneusplek), Uzair Cassiem (nekspasma), Vincent Koch (kneusplek aan die knie), Jaco Bouwer (moontlik sy wangbeen gebreek) en JW Bell (skenkelsening) ligte beserings na Saterdag opgedoen. Die haker Jacques Momberg het ten volle van sy besering (gebreekte duim) herstel en kan vir die Pumas se volgende wedstryd oorweeg word.




