Local sportSport

Kwaai mededinging pas mooi in Nellies se kraal

Hoërskool Nelspruit se 12 top-atlete het verlede week die reusetaak gehad om op die bekende Pilditch-stadion, teen soortgelyke spanne van meer as 35 skole vanuit al die noordelike provinsies van ons land, mee te ding.

Dit was voorwaar ‘n SA’s in die kleine, met prestasies bo 1 000 Absa-punte aan die orde van die dag.

Om sake verder uitdagend te maak, was die weer broeiend warm en bedompig, met nat toestande wat later tydens die byeenkoms dinge nog moeiliker gemaak het.

Nogtans het die Nellies vasgebyt en hul man deeglik gestaan.

Die naam van Ilke Joubert (o/17) staan sekerlik bo-aan die lys van pragtige NHS-prestasies.

In uitgelese geselskap, wen sy die spiesgooi met ‘n uitstekende 39,79 meter – die verste wat ‘n dogter van NHS nog die spies deur die lug laat trek het.

Joubert staan op die drumpel van nóg ‘n mylpaal: om die eerste Nellie-dogter te word om die 40-metermerk oor te steek.

Sy het ook in gewigstoot uitgeblink toe sy met ‘n goeie 12,91 meter ‘n derde plek (uit 18 deelnemers) behaal het.

Die hoogste Absa A-punt deur ‘n dogter uit die Laeveld, is egter deur Nicola Cronje (o/15) behaal toe sy die 800-meter vir die eerste keer onder 2:20,00 voltooi het. Haar 2:19,11 was ‘n volle 919 punte, asook ‘n baie goeie derde plek, werd.

‘n Hele paar 900+ punte is deur die seuns ingesamel. Jacques Marais (o/14) se sprong van 5,50 meter (verspring) het aan hom 938 punte besorg, terwyl Stefan Smit (o/16) weer sy ontsaglike potensiaal onderstreep het, deur skitterende vertonings in die spiesgooi (59,56 meter – 932 punte) en skyfwerp (46,96 meter – 911 punte) te lewer.

Hy was tweede in spiesgooi, en derde in skyfwerp. Chyle van Zyl (o/15) het weer verder as 15 meter in gewigstoot gehaal (15,09 meter – 890 punte), met Werner Bouwer (o/19) wat oudergewoonte sy stem dik gemaak het, toe hy die 800 gram-spies op ‘n mooi afstand van 62,67 meter (878 punte) laat pen het.

Marne van Aarde (o/16) het haar by Joubert aangesluit as een van twee NHS-dogters wat vanjaar die driekilogram-gewig verder as 12 meter kon stoot.

Haar persoonlike beste van 12,01 meter, het 848 punte tot die spantotaal bygedra. Jessica Berry (o/15) kan ook die kop hoog lig, nadat sy die 1 500 meter in onder vyf minute voltooi het (4:52,20).

Vir hierdie baie goeie binnelandse tyd, het Berry 889 punte verwerf.

Van die ander uitstaande vertonings sluit in:
• Joshua Maass (o/16): verspring – 6,18m, ook spiesgooi – 56,53m (beide derde plekke)
• Chyle van Zyl (o/15): skyfwerp – 43,72m
• Suzaan Nel (o/14): verspring – 4,66m, ook 100m – 13,34sek
• Nicola Cronje (o/15): 400m – 60,88sek
• Chantel Olivier (o/14): hoogspring – 1,45m

Met sulke uithaler-prestasies, kan die top-atlete die uiters strawwe Superbyeenkoms op Dinsdag 1 Maart met selfvertroue tegemoet gaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button