Nellies haal uit en wys by streeksbyeenkoms
Die finale Ehlanzeni-streeksbyeenkoms (ten einde om die span na die Mpumalanga-kampioenskappe saam te stel), het verlede Vrydag op Barberton plaasgevind.
Net die atlete wat hul weg oopsien om aan vanjaar se nasionale kampioenskappe te gaan deelneem, het vir hierdie byeenkoms ingeskryf. Desondanks het ‘n hele paar van Hoërskool Nelspruit se top-atlete die geleentheid gebruik om blink vertonings te lewer.
Naas Marais (o/17) het reeds in 2015 as o/16-atleet aan die SA’s vir seuns 17 deelgeneem, en gewys dat daardie ervaring goud werd was.
Nadat Marais verlede week die Mediclinic Nelspruit Interhoër Laeveld (skyfwerp o/17) met ‘n goeie gooi van 48,6m gewen het, het hy op Barberton die krane behoorlik oopgedraai.
Sy wenafstand van 55,75m is gewis eindronde-materiaal op die SA’s en raak-raak aan die soort afstande wat nasionale medaljes verwerf. Die uiters strawwe ASA-tabel is gebruik, maar Marais het nogtans ‘n pragtige 907 punte vir sy reusegooi verdien. Hy was ook in ‘n onkeerbare bui in die gewigstoot toe hy sy 14,75m van die vorige naweek, met ‘n uitstekende 15,55m oortref het (767 punte).
Onder die dogters, het Ilke Joubert (o/17) met goeie pogings van 12,83m (gewigstoot, 896 punte) en 38,24m (spiesgooi, 800) uitgeblink. Haar skyfwerp-afstand van 29,06m was 740 punte werd. Marné van Aarde (o/16) was tweede in die gewigstoot vir dogters o/17 met ‘n goeie 11,51m (842).
Twee items waarin NHS se atlete skoonskip gemaak het, was die skyfwerp vir seuns o/15, asook spiesgooi – ook seuns o/15. In skyfwerp, het Chyle van Zyl (50,46m – 798) met die louere weggestap, gevolg deur spanmaats Jacques Marais (o/14) met 42,29m, en Xander Rutherford (o/14) met sy 40,60m.
In spiesgooi was Jaco Pretorius eerste (45,43m), gevolg deur Van Zyl (44,88m) en Douw Kruger (o/14) met ‘n gooi van 39,19m.
Leon Pienaar (o/19) het die magiese 50sek vir die 400m oortref, toe hy die item in 49,98sek voltooi het (759 punte).
