MMA-vegter gereed vir sy eerste kragmeting van die jaar
Rio Grappling Laeveldklub se professionele gemengde gevegkuns (MMA)-vegter, Lourens Botes neem môre aan die eerste van 10 Extreme Fighting-kampioenskappe (EFC) deel.

Hy kom in die EFC 47 teen ‘n vegter van KwaZulu-Natal, Martin de Beer te staan.
Dit sal die 36-jarige se agtste professionele geveg wees en mits hy Saterdag De Beer uitslaan, sal dit sy derde agtereenvolgende oorwinning wees. “Ek het nog nie teen De Beer te staan gekom nie, maar hy spesialiseer in muythai. Ek berei sedert die begin van Januarie vir dié groot geveg voor.”
Hy weeg Vrydag om 14:00 in (bantam-gewigsklas, 57 tot 61,1kg).
Botes se afrigter, Craig McFadyen vertel dat hy Saterdag daarop gaan fokus om sy teëstander so vinnig as moontlik op die vloer te kry. “Ons het na De Beer se sterk- en swakpunte gaan kyk, maar ons gaan nie Botes se gevegstyl verander nie. Werner is ‘n stand-up-vegter so ons gaan fokus om die geveg so gou as moontlik op die vloer te kry met die hoop om die uitklophou te plant.”
Botes se eerste professionele geveg was in 2013 teen Zulu Boy wat tans die vlieggewigkampioen is.
Botes het reeds 15 amateurgevegte agter sy naam en is in 2012 as Mpumalanga se amateurkampioen aangewys. Hy het onlangs ‘n 18-maandekontrak by EFC geteken en Saterdag se geveg by Carnival City in Brakpan sal sy eerste op die nuwe kontrak wees.
Die hoofgeveg van die aand is tussen Daniel Henry van Skotland teen die Suid-Afrikaner, Igeu Kabesa wat vir die vlieggewigtitel sal meeding.
