Local sportSport

NHS se atlete bult spiere teen van die bestes

Hoërskool Nelspruit se A-atletiekspan het Dinsdag in Germiston, voorwaar voor 'n Everest te staan gekom.

Nie alleen moes die Nellies die atletiekkrag van skole soos Helpmekaar, Kempton Park en Waterkloof aandurf nie, maar ‘n gesogte plek as een van die Noordvaal se top 8-skole (A-bond) was op die spel.

Die afgelope drie jaar, het skole soos Dr EG Jansen en Noordheuwel gepoog om die Nelspruiters van hulle plek te ontneem, maar telkens het die Nellies verbete teruggeveg en steeds in die A-bond gebly.

Vanjaar was geen uitsondering nie.

Die jaarlikse Super 16 Interhoër betrek meer as 50 top-atletiekskole, wat in verskillende bonde (agt in ‘n bond), volgens ‘n promosie-relegasie stelsel, om die hoogste louere meeding.

NHS het in die D-bond begin, maar is na jare se harde werk, ‘n gevestigde lid van die A-bond. Wanneer die topskole mekaar pak, is die standaard natuurlik geweldig hoog en ‘n medalje, iets wat net vir die heel bestes beskore is.

Dinsdag was dit reeds vroeg duidelik dat Transvalia en NHS in ‘n verbete stryd gewikkel sou wees. ‘n Eersteplek verdien nege punte, wat duidelik wys hoe naelskraap die Nellies se finale groottotaal van 522 teenoor Transvalia se 514 was.

Transvalia se dogters (272) was 34 punte voor NHS, maar laasgenoemde se seuns (284) het met hulle 42 voorsprong bo Transvalia (242), die knoop deurgehak.

Transvalia skuif na afloop van die byeenkoms af na die B-bond terwyl Prestige College (wenners van vanjaar se B-bond) in 2017 in die A-bond sal meeding.

Die uiteindelike wenners (A-bond) vir vanjaar, was Helpmekaar College (743) wat voor Kempton Park (685) en Waterkloof (626) die trofee weggeraap het. Die Afrikaans Hoër Seuns, Affies (414) en Affie-dogters (422) het die ander spantrofeë ingepalm.

NHS se seuns spog met drie goud, vier silwer- en 12 bronsmedaljes. Die dogters het twee goud, ses silwer- en vyf bronsmedaljes ingeoes.

Suzaan Nel (o/14) se medaljekas is twee goues ryker, nadat sy die 100m (13,25sek) en verspring (5,06m) gewen het. Sy het 927 Absa-punte in die verspringput verower.
Die seuns wat goud verwerf het, was Stefan Smit (o/16), Werner Bouwer (o/19) en Diaan van Heerden (o/19).
Smit het met ‘n skitterafstand van 65,90m in spiesgooi die eerste plek verower (1 076), terwyl Bouwer (o/19) die 800g-spiesgooi op 67,24m laat pen het (963 punte).

Smit het Garsfontein se Diego Appollis (57,27m) met meer as agt meter getroef, terwyl Bouwer se wenafstand ook byna agt meter verder as die 59,33m was, waarmee Bees Ferreira (ook van Garsfontein) silwer gewen het.

Tydens die 4x100m-afloswedlope waarin NHS se spanne uitstekende tye aangeteken het, was dit veral die o/14-dogters (53,04), o/14-seuns (48,25), o/16-seuns (45,42) én seuns o/19 (43,76), wat vir groot opwinding gesorg het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button