Local sportSport

Oud-Protea aan stuur van hokkie by Curro

"Ek kan ongelukkig nie 'n lewe daaruit maak nie. As ek harder gewerk het, sou ek seker dit gemaak het."

‘n Voormalige o/21-Proteahokkiespeler, Nika Nel het na afloop van ‘n sewe jaar lange professionele hokkieloopbaan, haar stewels as speler weggepak, en wil nou haarself as afrigter bewys.

Die 23-jarige het aan die begin van die jaar by Curro Nelspruit College begin waar sy in beheer van die skool se hoëprestasie-eenheid vir hokkie is.

Die gedagte om enigsins vir ‘n Suid-Afrikaanse span gekies te word, het eers as 16-jarige leerder by Eunice High School begin posvat. Sy is reeds as o/12-, o/13 en o/14-speler vir die Oos-Vrystaatspan gekies.

Op hoërskool het sy as gr. 9-speler vir haar skool se eerste span uitgedraf. Die volgende jaar het die Vrystaters die interprovinsiale toernooi gewen en daar het die hokkiekeurders haar raakgesien waar sy vir die SA o/16-span gekies is. Sy het wéér die volgende jaar die SA o/17-span gehaal. In haar finale skooljaar het sy haar duim tydens ‘n o/18 Vrystaat-toernooi gebreek en kon nie vir die SA o/18-span oorweeg word nie.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het vir haar ‘n sportbeurs aangebied waar sy ook rekeningkunde studeer het. Sy het tussen 2011 en 2015 vir UJ 1 gespeel.

In 2011 was sy deel van die SA o/21-oefengroep. Sy het die finale span van 18 gehaal. Die span het tydens die African Cup-toernooi vir die 2013 Junior Wêreldbeker in Duitsland gekwalifiseer.

Verlede jaar het UJ die Varsity Sportsbeker omhoog gehou toe hulle die Universiteit van die Vrystaat, Kovsies, in die eindstryd geklop het. “Ek is dankbaar vir afrigters soos Patrick Tshutsani, Lydsey Wright en Robin Ginkel wat altyd die ekstra myl gestap het om my te bring waar ek vandag is. Ek het groot planne – nie net vir hokkie as sport by Curro nie, maar ook om Mpumalanga-hokkie as ‘n geheel te verbeter. Ek wil ‘n atmosfeer vir spelers skep om ook geïdentifiseer te word om ook moontlik eendag vir die Proteas se speel. Ek het ‘n passie vir die sport en ek wil my kennis van dít wat ek geleer het, met die spelers deel.”

Nel saam met Louise de Jager (SA o/21-speler), Mark de Jager (SA-mans binnenshuise doelwagter), Taylor Dart (Protea-middelveldspeler) én Kerry Trebble (Southerns o/21) bied op 19 en 20 Maart ‘n kliniek vir hokkieliefhebbers by Curro aan.

Navrae: Nika Nel by nika.n@curro.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button