Stad se jong atlete beïndruk
Die oë van atletiekliefhebbers was Saterdag by die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe in die Universiteit Nelson Mandela se stadion by Port Elizabeth (PE) op die verspringput én die 11-jarige Shanese de Clerck gefokus. Sy is die land se beste veldatleet vir 2016.

Dié Laerskool Nelspruit-atleet het vanjaar reeds ses rekords in die put gebreek. Sy spog nou met ‘n nuwe persoonlike beste afstand van 4,79m. Sy is een van net vier atlete wat die rekordboeke in PE herskryf het. Die vorige rekord is in 2002 deur J. Fourie by die Universiteit van die Weskaap met ‘n afstand van 4,76m opgestel.
Shanese het ‘n vyfde plek in die hoogspring behaal met ‘n hoogte van 1,32m. “Ons het voor die prysuitdeling teruggevlieg, want ons het nie gedink sy sal ‘n trofee ontvang nie. Ons is geweldig trots op haar. Sy was meer bly oor die trofee as om ‘n eerste plek te verower het. Sy het verder as die o/12-dogters gespring en ook as die o/11-seuns op SA’s,” sê haar pa, Bertie.
Die gewigstootatleet, Ashley Erasmus (o/11) het met haar kolossale gooi van 11,51m ‘n goud verower en lê in die 13de plek op die top-50 punteleer. “Hierdie meisiekind van ons het in 2015 ‘n vierde plek met die gewigstootbal behaal en vanjaar na die eerste plek opgeskuif. Sy is baie kleiner as die ander deelnemers gebou – sy het baie hard gewerk om die beste en selfs beter as die vorige jaar te wees. In 2014 het sy nog 6,42m daardie jaar by die interlaer gegooi en kyk nou. Sowaar ‘n klein yster. Haar oupa het haar gedoop as ons Mpumalanga se klipgooiertjie. Sy het ‘n fenominale 2016 gehad deurdat sy met elke byeenkoms ‘n rekord gebreek het. Ons is baie trots op haar en baie dankbaar vir al die ondersteuning wat sy van haar skool, Laerskool Nelspruit, Nellie-maats en ouers ontvang het,” vertel haar trotse ma, Angelique.
Die blitsige Anje Nel (o/12) het vir die derde agtereenvolgende jaar goud om haar nek gehang. Sy kom eerste in die 150m-hekkies met ‘n tyd van 22,14 wat haar 27ste in die top-50-punteleer geplaas het.
Sy het ook ‘n tweede plek in die 75m-hekkies behaal en ‘n vierde plek in die hoogspring met ‘n hoogte van 1,45m. In 2014 het sy goud in die 75m-hekkies, in 2015 ‘n goud in die hoogspring en vanjaar weer ‘n eerste plek in die 150m-hekkies. “Al wat ons kan sê, is dat ons baie bevoorreg is. Sy oefen hard en wil op hierdie vlak presteer,” sê haar pa, Polla.
Benewens die feit dat Laerskool Laeveld se Ashaan Sebastian Greaver, nie die tye opgestel het wat hy graag in sy onderskeie items wou gehardloop het nie, swel sy ouers se bors van trots. “Geluk my seun. Ek het jou nog nooit gesien so hard sien werk soos die twee dae nie,” het sy ma, Bianca oor die naweek op Facebook gesê.
Hy het ‘n derde plek op die podium vir die 200m ingeneem met ‘n tyd van 24:00 (PB, 23,81). Tydens ‘n onderhoud verlede week, het Ashaan aan Laevelder gesê dat hy ‘n nuwe rekord in dié item wou hardloop.
Hy het ‘n vierde plek in die 100m behaal met ‘n tyd van 12,19 (PB, 11,8). Die o/13-seun het nog ‘n vierde plek in die 200m-hekkies behaal.
Alhoewel klein Akani Sibuyi (o/10) van Uplands Preparatory tydens die Mpumalanga-kampioenskappe (Mussa) in Secunda ‘n 3,8m gespring het, het sy ‘n moeilik dag in die verspringput gehad en moes met ‘n 3,58m tevrede wees.
Sellin de Beer (o/12) het ‘n sesde plek, ook in verspring met ‘n afstand van 4,66m behaal. Die mannetjie het in Secunda ‘n goud verower met ‘n massiewe sprong van 4,94m.
Buiten die feit dat die o/11, Della Alberts nie ‘n medalje om haar nek gehang het nie, het sy haar PB in die 1 200m met 0,48 sekondes verbeter met ‘n tyd van 4:06.
“Ons is baie trots op ons atlete wat Uplands Prep die afgelope naweek in ‘n winderige PE verteenwoordig het. Ten spyte van ongunstige weeromstandighede, het die drie atlete hul beste gedoen. Ons is baie opgewonde oor hulle toekoms,” het die afrigter van Uplands Prep, Ryan McCarthy gesê.
Laerskool Witrivier se Naki Fakude (o/11) was die beste van die vyf atlete wat die skool verteenwoordig het, met ‘n sewende plek in die finale lopie van die 80m. Callum van Staden (o/10) het ook in dié item se finale lopie, ‘n agtste plek verower. Hy het tydens die uitdunrondes derde met 11,29 geëindig. Sy tyd in die finale lopie was 11,47.
![PP_4524 copy[1]](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/44/2016/03/PP_4524-copy1.jpg)



