Local sportSport

Eerste veldskietkompetisie lok groot belangstelling

Om eties te jag benodig 'n skut twee vaardighede: akkurate afstandskatting en skootplasing. Met dié teiken in die oog het die Suid-Afrikaanse Jagters Bosbok-tak en CVO Burgersfort onlangs 'n veldskiet by PLM Boerdery aangebied.

Organiseerder Johan Grimbeek het gesê hulle het die deelnemers tot 120 beperk omdat dit die eerste keer is dat hulle dit aangebied het.

Die opkoms was tog bo verwagting, voeg hy by, en ‘n vol veld het deelgeneem. Op die dag is byna R75 000 se ammunisie uitgeskiet.

‘n Veldskiet het ten doel om skuts die geleentheid te gee om te oefen om onder ware jagtoestande te skiet. Teikens wat wild voorstel, word op verskillende afstande opgestel en skuts moet dit dan van verskillende posisies skiet – soos wat onder jagomstandighede ondervind sou word in ‘n beperkte tyd.

Dié word in ‘n lang en kort ghongbaan opgestel. Op die kort baan skiet skuts teikens op verskillende afstande wat tussen 150 en 250 meter wissel. Deelnemers kry twee minute om al vyf ghonge raak te skiet – met slegs vyf koeëls, want as jy een mis, beweeg jy bloot aan na die volgende een.

Die lang ghongbaan werk op dieselfde beginsel, die afstande wissel net vanaf 250 tot 450 meter.

“As jy in die veld loop het jy nie ‘n afstandmeter nie. Dié veldskiet leer jou om afstande akkuraat te skat en jou skootplasing te verbeter,” sê Grimbeek. Individuele skuts kon met ‘n jagboog of luggeweer deelneem. Die algehele wenners was Stefanus Schoeman, wat die ope-afdeling gewen het. Hy is gevolg deur Rudolf Myburg in die tweede plek en André Jonker derde. In die vroue-afdeling is Cindy du Plessis as die wenner aangewys. Sy is gevolg deur Lizl Grimbeek in die tweede plek en Martelize Venter derde. Onder die junior skuts was Annika Myburg die wenner, met Dré Jonker tweede en Xander van Eck derde. Grimbeek het gesê hy kan nie wag om nog so ‘n dag aan te bied nie, en bygevoeg, “Almal wat daar was, kan nie wag vir die volgende een nie.”

Hy voeg by dat hulle in die toekoms ook ‘n stormleeu wil aanbied wat omstandighede simuleer deur ‘n teiken met ‘n kabel na die deelnemers toe te trek om die storm van gevaarlike diere voor te stel – sodat skuts meer vertroud kan raak daarmee om gevaarlike wild soos ‘n leeu of buffel te skiet, sou hulle in die veld gestorm word. “As so ‘n dier jou storm wil jy hom graag in die brein skiet om hom so gou as moontlik te stop en ouens geniet dit nogal om dit te oefen,” vertel hy. “Die adrenalien laat party manne nogal rond en bont skiet, en toeskouers geniet dit amper meer as die skuts.”

Hulle beplan ook ‘n groeperingskiet later vanjaar. Navrae: SA Jagters se skietkoordineerder Johan Grimbeek by 082-378-0698 of voorsitter JB Willers by 082-820-1748.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button