Justin van Staden goud werd vir die Pumas
Justin van Staden van die Pumas het hierdie seisoen steeds nie sy gelyke as losskakel teëgekom nie en sy span tot 'n naelbytoorwinning van 12-10 gelei.

Die Boland Kavaliers-heelagter, Nico Scheepers, het in die laaste minute van die kragmeting van die kwalifiserende Curriebeker-reeks teen die Steval Pumas, ‘n drie-punter pale toe misgeskop en só sy span se onoorwonne status gekos.
Skouspelagtig was die wedstryd nie – die Pumas het meer as drie keer by Boland se doellyn gaan kuier, maar bottervingers het van een aanslaan tot die volgende gelei. ” Ons is verlig oor die wen en sou hierdie oorwinning enige dag gevat het, al was dit nie mooi rugby nie,” het die Puma-breier, MJ Mentz na afloop van die wedstyd gesê.
Die Pumas het nou in 240 minute se rugby net twee drieë gedruk. Van Staden was ook die span se wenresep teen die Hino Valke en het reeds 32 punte van die Pumas se 42 aangeteken. “Dit is ‘n groot bekommernis dat ons nie drieë druk nie. Ons het minder foute teen die Boland begaan, maar kon in kritieke tye nie afrond nie,” het Mentz verder gesê.
Die besoekers kon ook nie daarin slaag om in die 80 minute ‘n drie te druk nie, maar die Boland se afrigter, Brent Janse van Rensburg, is steeds gelukkig met sy span se vertoning. “Ons verdediging was goed en het die Pumas op die agtervoet gehad. Ons het vier strafskoppe afgestaan omdat ons ongeduldig was en ons dissipline het ons ook die wedstryd gekos.”
Hennie Skorbinski wat vir die begin 15-tal vir die Pumas se wedstryd gekies is, is op die laaste nippertjie onttrek met Wilmaure Louw wat sy plek volgestaan het.
Brian Shabangu (knie) en Sabelo Nhlapo (boarmspier) het gister die regmerkie by die Pumas se fisioterapeut, Luzahn Louw gekry om weer te begin oefen.





