Saru-statistieke misleidend
Die rugbybase van Suid-Afrika het verlede week voor die parlement se portefeuljekomitee verskyn oor die onderpresatsie op die transformasie-telbord.

Volgens ‘n voorlegging wat uitgereik is, voldoen onder andere die Pumas nie aan die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) se transformasie teiken van 35% nie. Die statisieke is net na aanleiding van die eerste Curriebeker se kwalifiserende rondes gedoen, wat nie na ronde drie in aanmerking gebring kan word nie.
Die Pumas het tydens die Vodacombeker Saru se transformasie-riglyne deeglik gevolg, maar tot op hede sit die Pumas met ‘n rits gekleurde spelers wat beseer is wat hulle geen ander keuse laat as om met die spelers te werk wat tot hul beskikking is nie. “Dit was geen produktiewe bespreking nie. Dit was ‘n tee en koekies-sessie. Daar is geen ander woord daarvoor nie. Ons o/21-span van 2015 het ons statistieke effe afgebring, maar oor die algemeen het ons die vereistes nagekom. Die statistieke is misleidend. Die noorde, soos ons en die Blou Bulle het die geld nodig om Saru se teikens te haal, maar daar word nooit geld gegee nie. Die EP Kings en die Stormers is nie veronderstel om te sukkel nie,” het die besturende direkteur van die Mpumalanga Rugby Unie (MRU), Pieter Burger gesê.
Na ronde een, het die Luiperds ‘n loslooitjie gehad, en kan dus nie in aanmerking gebring word nie, wat die statistieke net nog minder noemenswaardig maak. Mits mens dit in aanmerking bring, het die Kings net 50% gekleurde spelers in die span gehad en die Westelike Provinsie net 41%.
“Spelers van kleur is duur. Hierdie jaar het die Pumas net ‘n o/20-span terwyl die ses Super-rugby unies en die Luiperds steeds o/19- en o/21-spanne het. Howard Mnisi (Leeus) en Trevor Nyakane (Blou Bulle) is spelers van Mpumalanga af, maar groter unies raap hulle van skool af op. Hoekom sal ‘n gekleurde speler by die Pumas teken wat nie Super-rugby speel nie? Hoe moet ons spelers ontwikkel as hier geen Varsitybekerspan is nie en baie min skole wat sokker bevorder eerder as rugby?” vra ‘n moedelose Burger.
Die Pumas sit tans met vier beseerde gekleurde spelers – Reuben Johannes, Ruwellyn Isbell, Brian Shabangu,en Sabelo Nhlapo (is Maandag goedgekeur om weer te begin oefen).
