Fietsryer presteer in uitdagende 361km-wedren
Met vier suksesvolle Comrades Marathonne agter die rug, het die kranige bergfietsryer Martin van Gass besluit om vanjaar vanaf 15 tot 17 April die 36ONE-wedren te trotseer.
Die resies, wat ‘n uitmergelende 361km lank is, verlang absolute uithouvermoë en volgens fietsryer Martin van Gass moet jou kop reg wees. “Jy moet jouself heeltyd motiveer om aan te hou.”
Hy meen dat die laaste 20km vir hom die ergste was en dat hy dit nie sonder sy vrou, Mariè, se oproep en aanmoediging oor die laaste paar kilometer sou kon maak nie.
“Die hoogtepunt vir my was om in die pikdonker nag in die Swartberge te ry, met net my klein flitsliggie voor my en die sterrehemel bokant my, die absolute stilte, en om bewus te kon raak van die grootheid van God en sy handewerk,” vertel Van Gass.
Die fietsryer het nie baie lank geoefen vir die spesifieke wedren nie en slegs in November 2015 intensief met voor-bereiding begin.
Dit was ‘n uitdaging om in die Onderberg te oefen, aangesien hier nie juis steiltes is waar hy kon klim nie. Hy kon dit wel in Barberton, die Kaftan en in Sabie oefen.
Van Gass het gemik om die wedren in 19 uur te voltooi, maar het in 21:17:20 klaargemaak en 18de plek in die sub-veterane-afdeling behaal.
Sy algehele posisie was 87ste uit 479 deelnemers, wat ‘n merkwaardige prestasie is vir iemand wat hierdie grote vir die eerste keer aanpak. Deelnemers het ‘n maksimum tyd van 36,1 uur om die wedren te voltooi, waarvan die eerste 12 gedurende die nag plaasvind.
Die resies, wat vanjaar vir die vyfde keer plaasgevind het, is die land se langste enkelfase, ondersteunende bergfietswedren en het uit vier fases bestaan. Deelnemers het die Vrydag om 18:00 by Kleinplaas Vakansieoord in Oudtshoorn weggespring.
Die 361km solo-uitdaging was die gewildste met 479 inskrywings. ‘n Bykomende 696 het uit spanne, aflosspanne en half-afstandryers bestaan.
Die wedren het met plaaspaadjies van sowat 15km begin, waarna hulle in die rigting van die Swartberge koers gekry het. Hulle het vir ‘n kort rukkie op die teerpad gery en op 35km na die tweede moeilikste opdraande op pad na Spitskop gery.
Martin het per ongeluk een van sy waterbottels in die ry tussen die twee punte verloor en het amper ontwater. Met al die stof in sy longe en oë op die grondpad, was die ervaring nie baie aangenaam nie.
Die roete het grondpaaie gevolg en fietsryers het die Outeniquaberge, Mount Hope, die Gouritzrivier en die sonsopkoms oor Calitzdorp gesien.
Martin het om 15:27 Saterdag, met geen slaap sedert Donderdagnag, die eindstreep behaal.
“Dit was die mees georganiseerde wedren waaraan ek nog ooit deelgeneem het. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Baie dankie aan al die ondersteuning en motivering uit Komatipoort, dit het baie vir my beteken.”
