Nelspruit delf onderspit in tuiswedstryd teen Barberton
Barberton Rugbyklub kon in die Laeveld-liga met Nelspruit, verlede jaar se naaswenners, op hulle tuisveld afreken.
Die spanne het mekaar die onlangs Mbombela die stryd aangesê, waar Barberton se eerste span die tuisspan met 22-12 kafgedraf het.
Nelspruit het eerste punte op die bord met ‘n drie aangeteken. Dit het die kaptein genoop om kwaai met die span te praat, wat wel daarna harder gespeel het.
Hulle kon uiteindelik deur die verdediging breek om die telling gelykop te maak. Nelspruit se volgende drie is verdoel, en dit is kort daarna deur Barberton beantwoord om die telling teen rustyd weer gelykop met 12 punte elk te maak.
Nelspruit sou nie weer in die wedstryd punte aanteken nie, met Barberton wat twee keer in die tweede helfte onder die pale gaan kuier het.
Jaundré Loubscher kon twee drieë druk. Hans Meyer en Quintin Fourie het elk vyf punte aangeteken met Banie van Aswegen wat twee drieë verdoel het.
Jaice Terblanche, Barberton se kaptein het gesê die span is tevrede met hoe hulle seisoen tot dusver verloop. Die span het albei hul wegwedstryde gewen.
Nelspruit se tweede span het die besoekers met 34-17 gewen. Die uitslag het die wenners egter gevlei – dit was nie ‘n ware weerspieëling van hoe gelyk die twee spanne teen mekaar opgeweeg het nie.
Barberton het meer kanse gehad, maar het onnodige foute op belangrike tye van die wedstryd begaan.
