Impalas vermorsel Witrivier op tuisveld
Die Impalas se wedstryd Saterdag op hulle tuisveld teen Witrivier was een van die bestes nóg hierdie seisoen. Die span het goed voorberei en dit was duidelik te siene aan hulle positiewe houding op die veld.
Voorlangs was daar ‘n taai stryd tussen die Impalas en Witrivier. Die Impalas se voorspelers het goeie balle aan hul agterspelers deurgegee wat gesorg het vir pragtige hardlooprugby, tesame met uitstekende balhantering. Dit het die toeskouers verskeie kere op hulle voete gehad.
Daar is as gevolg van ‘n paar aanslane drieë verloor, maar die Impalas het nogtans met vyf pragdrieë, waarvan net twee verdoel is, geslaag. Die agterlyn het baie goed vertoon, veral met binnesenter en kaptein, Frikkie Odendaal, wat van voor af die spel gelei het en goed gekombineer het met buitesenter Ruan Minnaar.
Die Impalas se rotsvaste verdediging het talle aanslae van Witrivier afgeweer en hulle kon slegs een keer die doellyn oorsteek vir ‘n eindtelling van 29-7 in Komati se guns.
In die eerste helfte is drie drieë gedruk.
Tydens die tweede helfte het ‘n hewige stofstorm ontstaan en die opponente het nie net wat die telling betref nie, maar ook letterlik in die stof gebyt.
Die voorspeler van die wedstryd is deur Danie Pretorius en Pieter Engels gedeel, terwyl die beste agterspeler Odendaal was.
Ruan Minnaar (2), Odendaal en Francois Labuschagne (2) het drieë en Brendan Jordaan het twee doelskoppe oorgeklits.
Die spelers wil graag elke ondersteuner wat agter hulle staan, bedank. “Sonder hulle is dit nie moontlik om weer ‘n krag in die liga te wees nie,” het een van die spelers gesê. Die Impalas se volgende wedstryd is op Saterdag 7 Mei in Barberton en 14 Mei in Mbombela.



