Ratel-span vasbeslote om ligabeker huis toe te bring
Met die Mpumalanga Laeveld-rugbyliga wat reeds volstoom aan die gang is, meen die Ratels dat hulle vanjaar dié beker huis toe gaan bring. Dit volg na nog 'n oorwinning verlede naweek vir hulle
Met die Mpumalanga Laeveld-rugbyliga wat reeds volstoom aan die gang is, meen die Ratels dat hulle vanjaar dié beker huis toe gaan bring. Dit volg na nog ‘n oorwinning verlede naweek vir hulle.
Saterdag het die span na Barberton gereis waar hulle dié rugbyklub se tweede span aangedurf het.
Die Ratels het die volle 80 minute van die wedstryd oorheers en gemaklik met 31-0 geseëvier. Die rustydtelling was 17-0 in die guns van die Ratels. Spelers wat punte vir die span aangeteken het, was Jan Oosthuizen en Willem le Grange wat albei twee drieë gedruk het.
Martin van den Berg het die vier drieë verdoel en Juan van Zyl het ‘n strafskop van 55 meter tussen die pale gestuur.
“Die manne het baie mooi saamgespeel en bly sterk op die wenpad. Hulle het vanjaar tot dusver nog elke ligawedstryd gewen. Ons sal die naweek gebruik om te rus voordat ons op 7 Mei die Kudus van Nelspruit by Laerskool Ohrigstad pak,” vertel Quartus du Toit, die Ratels se medeafrigter.
Martin van den Berg is as die beste agterspeler van die wedstryd aangewys en Edward Latsky was die beste voorspeler.

