Pumas se sleutelspelers kry ruskans teen Namibië
Die agtsteman van die Steval Pumas, Carel Greeff wat in die vorige vier rondes van die Curriebeker se kwalifiserende rondes uitgedraf het, kry die naweek teen die Windhoek Draught Welwitschias 'n ruskans.

Lambert Groenewald speel in die plek van Greeff met Dylan Peterson wat van die plaasvervangersbank kan opdraf.
Die Pumaskaptein, Hugo Kloppers het verlede week teen die Grens harsingskudding opgedoen en is nie vir Saterdag se wedstryd oorweeg nie. Die senter, Hoffmann Maritz neem die leisels oor.
Reynier van Rooyen (skouer) en Bernado Botha (kuit), het nie Woensdag hulle mediese toets geslaag nie en die Pumas moes ook noodgedwonge veranderings in dié posisies maak.
Die nuweling, Emile Temperman is terug in die beginspan nadat hy vir die afgelope drie kragmetings van die bank af gespeel het. Deon Helberg sal op vleuel begin.
Die speler van die wedstryd teen die Grens, Stephan Greeff skuif ook bank toe met Wiehan van der Walt wat vir die eerste keer die pienktrui oor sy kop gaan trek.
“Die veranderinge wat aangebring is, is ‘n bewys dat ons diepte in die span het. Die afwisseling van spelers wat die afgelope vier wedstryde van die bank af gespeel het, kom op ‘n goeie tyd. Dit gee beslis vir van die spelers ‘n welverdiende ruskans, want dit is nog ‘n lang seisoen wat voorlê. Hierdie spelers het hulle plekke in die begin-15 verdien,” bieg die Pumasbreier, MJ Mentz.
Die Namibiese span het nog nie een van hulle wedstryde gewen nie met hulle grootste loesing teen die Goue Leeus van 12-66 in die tweede ronde. Die Pumas speel in Ermelo met ‘n ligabepaling tussen hoërskole Ermelo en Piet Retief die oggend. Vir Mentz is dit ‘n groot geleentheid om weer in sy voormalige tuisdorp te speel. Dit is hier waar hy as matriekleerder tot die SA-skolespan verkies is en in 2007 sy eerste professionele wedstryd vir die Griekwas gespeel het. Hy het sy stewels in 2012 vir die afrigtingsfluitjie saam met sy voormalige skoolspan- en Pumabreier, Jimmy Stonehouse, opgehang.
“Dit is hier waar ek my loopbaan begin het. Ek sien uit om weer die skool se eerste span in aksie te sien.”
Nog ‘n Puma, Marlou van Niekerk, kan ook moontlik sy buiging 15:00 Saterdag maak.
Steval Pumas
15. Heinrich Steyl
14. Deon Helberg – in vir Bernado Botha (kuit)
13. Hoffmann Maritz (kaptein)
12. Hennie Skorbinski
11. Marcello Sampson
10. Justin van Staden
9. Emile Temperman – in vir Reynier van Rooyen (skouer)
8. Lambert Groenewald (onderkaptein) – in vir Carel Greeff
7. Nardus van der Walt – in vir Lambert Groenewald (posisioneel)
6. Marnus Schoeman
5. Jannie Stander – in vir Hugo Kloppers (harsingskudding)
4. Wiehan Hay (debutant) – in vir Stephan Greeff (skuif na bank)
3. Marné Coetzee
2. Francois du Toit – in vir Frank Herne (skuif na bank)
1. De-Jay Terblanché – in vir Simon Westraadt.
Plaasvervangers: Frank Herne, Khwezi Mona, Stephan Greeff, Dylan Peterson, Johan Herbst, Marlou van Niekerk en Tyler Fisher.
