Local sportSport

Huiswerk iets van die verlede vir Laeveld Akademie se lede

Dié plan is onlangs by 'n ouervergadering deur Briel bekendgestel en fokus op die kennis wat leerlinge nodig het om matriek te slaag en toelating tot 'n tersiêre instelling te kry.

Huiswerk is uit by Laeveld Akademie en die ouers en leerlinge is verheug daaroor. Volgens Hendrik Briel, dié privaat skool se uitvoerende hoof, is hulle nie bang vir verandering nie.

‘n Revolusionêre omvattende onderwysplan (OOP) wat onlangs geïmplementeer is, was vir ouers en leerders ‘n groot verrassing. Om nie meer huiswerk te hê ná skool nie, is immers enige kind se droom.

Dié plan is onlangs by ‘n ouervergadering deur Briel bekendgestel en fokus op die kennis wat leerlinge nodig het om matriek te slaag en toelating tot ‘n tersiêre instelling te kry. Dit werk op dieselfde beginsel as die Montissori-studiemetode wat reeds in talle privaat skole gebruik word.

Die meeste ouers was ten gunste van die nuwe onderwysplan omdat skoliere nou genoeg tyd by die skool het om ook hulle huiswerk te voltooi. Skrifte bly in die klas en kan nie meer tuis vergeet word nie. Met periodes wat 50 minute lank is, word daar ruimte gelaat vir klas- sowel as huiswerk. Die onderwyser is die hele tyd teenwoordig en kan ondersteuning bied wanneer daar iets is wat die leerlinge nie verstaan nie.

Na elke periode neem hulle ‘n blaaskansie van 10 minute voor die volgende klas begin. Met slegs ses periodes per dag word baie meer tyd aan lesse bestee en word probleme dadelik aangespreek. Voorheen moes leerlinge wat aan buitemuurse aktiwiteite deelneem, hulle huiswerk saans laat tuis inpas. Met OOP word die probleem hokgeslaan en kan ouers meer gehaltetyd saam met hulle kinders deurbring. Daar sal wel tydens eksamentyd verwag word dat leerlinge tuis moet leer, maar take en huiswerk sal by die skool afgehandel word.

Briel en sy personeel is opgewonde oor die nuwe uitdaging. Sover hy weet, is Laeveld Akademie slegs een van drie skole wat die onderwysplan volg. Die verandering het nie oornag plaasgevind nie sê Briel. Hy en sy personeel het maande lank aan die nuwe plan gewerk, maar is oortuig dat dit suksesvol gaan wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button