Wiskunde-onnie steeds gek oor tennis
"Netbal was koning, maar ek het geweet ek kan nie altyd die balsport beoefen nie en daarom het ek tennis so lief."

Riekie du Preez (49) het onlangs aan die Inter Pro-tennistoernooi in Durban deelgeneem. Sy was deel van die 50- tot 54-jaar-span en hulle het vyfde geëindig. Die 60 A-mansspan van Nelspruit Tennisklub (NTK) se Dawie Visser en Nico Brink het hulle ouderdomsgroep gewen.
Nie net is Du Preez ‘n kranige tennisspeler nie, maar sy is ook gek oor wiskunde. Sy is sedert Januarie 2002 ‘n onderwyser by Hoërskool Bergvlam waar sy eers rekeningkunde en EBW gegee het, voordat die nuwe kurrikulum in 2006 ingestel is. “Daardie jaar het ek wiskundige geletterdheid begin gee. Ek was tydens verlede jaar se eindeksamen die hoofnasiener vir vraestel twee van die matrieks.” Sy is ook in 2014 as Mpumalanga se top-onderwyser aangewys.
Sy vertel dat sy langs die tennisbaan groot geword het en as sewejarige haar eerste rakket gekry het. “Kan jy glo? Ek speel al 43 jaar tennis en die is my 15de jaar by NTK. Ek het by Hoërskool Diamantveld in Kimberley van vroeg af reeds vir die skool se eerste span gespeel.”
In 1985 is sy na die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus waar sy vir Puk o/21- en o/23 netbal gespeel het. Daarna is sy na die Universiteit van Stellenbosch waar sy haar honneurs in menslike bewegingskunde gedoen het. Alhoewel sy meer aandag aan netbal gegee het, het sy nooit opgehou tennis speel nie.
Tussen 1994 en 1996 het sy Playball afgerig wat tennis, netbal, sokker, hokkie, korfbal, bofbal en vlugbal insluit. Sy het eregraadkleure in onderskeidelik netbal, tennis, tweekamp, atletiek en landloop. Van 1987 tot en met 2012 het sy 20 netbalspanne afgerig en is sedert 2005 by Vlammies se eerste en tweede tennisspanne betrokke. Sy het in 2009 haar netbalskoene opgehang.
Goue herinneringe van haar tennisdae, was toe die pro-span twee keer die toernooi gewen het – die eerste een in Bloemfontein en daarna in Stellenbosch. “Dit was spesiaal gewees. Dit is lekker om steeds kompeterende tennis te kan speel.”
Du Preez het ‘n NSA B-gradering vir netbal. Sy is die ondervoorsitter van Laeveld Skole-tennis en sekretaris van Laeveld- en Mpumalanga-tennis.
Dié naweek speel sy en haar seun aan die Noordwes-uitdagingstoernooi in Klerksdorp teen Noordwes, Noord-Kaap en Limpopo.
