Plaaslike atletiek-ster skitter in Meesters Kampioenskappe
Agatha-Lee du Plessis het Saterdag in Pretoria vier medaljes by die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe verwerf.
KOMATIPOORT – Gietende reën tydens die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe in Pretoria Saterdag het Agatha-Lee du Plessis se geesdrif geensins gedemp nie. Dié sestigjarige onderwyser het ‘n goue medalje in hoogspring en ‘n silwer in verspring, 100m en spiesgooi verwerf.
Vorige en huidige wêreldtitelhouers en voormalige Olimpiese kampioene van Suid-Afrika, Namibië, die VSA en Nieu-Seeland het aan die byeenkoms deelgeneem en heelwat nasionale sowel as wêreldrekords is verbeter.
Alle atlete bo 30 wat op ‘n plaaslike, provinsiale en nasionale vlak aan veld- en baanitems deelneem, kan aan meesteratletiek deelneem. Dit gee hulle ook die kans om vir internasionale byeenkomste te kwalifiseer.
Du Plessis vertel dat dit nie te gemaklik was om so druipend en met nat hardloopskoene deel te neem nie, maar sy het vasgebyt en skitterende uitslae behaal.
Haar fokus is nou op die wêreld-kampioenskappe wat in Maart binnenshuis in Korea aangebied word.
Na Corridor Gazette verlede maand oor haar prestasies – en die feit dat sy op haar eie oefen – berig het, het twee vroue na vore gekom wat haar nou help met afrigting in hoogspring en hekkies. Lees die vorige berig oor Du Plessis hier.
Du Plessis bedank graag al haar familie, die personeel by Komatipoort Akademie en die gemeenskap vir al die mooi boodskappies, oproepe en ondersteuning.
