Ontwikkeling van die kind is sy passie
Die nuutaangestelde sporthoof van Laerskool Laeveld, André Barnard wil nie net al die sportsoorte ontwikkel en bevorder nie, maar ook die kind self.

“Die nuwe sportstelsels wat ons onlangs in plek gestel het, kan ons reeds die verskil raaksien, maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Om die kind te ontwikkel, strek tot voordeel van die kind, maar die skool baat ook daarby. Ons wil ‘n gesonde band met ons buurskole bou om ook meer kompeterend te kan deelneem. Die kind moet van vroeg af leer om vir iets te werk, maar moet dit ook geniet.”
Die 43-jarige is eers onlangs as sporthoof aangestel en is nog in tydelike hoedanigheid die departementshoof: tale waar hy ook Engels gee. Dit is Barnard se sesde jaar by Laeveld, nadat hy van die Suid-Kaap teruggekeer het. “‘n Mens se hart verlang altyd terug na die Laeveld toe. Ek en my vrou het die geleentheid gekry om saam by die skool te begin en dit is die beste besluit wat ons kon gemaak het.”
Lees: Laeveld se eerstes klop Witrivier
Barnard, ‘n gebore Nelspruiter is self ‘n oud-Laerskool Laeveld leerder en sy pa was die skool se eerste hoof in 1983 waarna hy in 2000 afgetree het. André het in 1992 by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer.
Daarna is hy na die Onderwyskollege in Pretoria tot in 1998 en het ook ‘n jaar by Laerskool Haakdoorn skoolgehou. In 1999 het hy en sy vrou ses jaar na Engeland verhuis. “Ons het besluit om terug te kom, omdat ons nie ons kinders daar wou grootmaak nie.”
Hy was ‘n ruk lank nie in die onderwys nie waar hy eers as ‘n finansiële direkteur gewerk het, werkswinkelbestuurder en daarna het hy opleiding gegee vir die veilige gebruik van chloorgas.
Hy het in ‘n sporthuis grootgeword en dit is waar sy liefde vir sport begin het. Sal hy graag dieselfde roete as sy pa wil stap?
“Jy moet jouself daardie geleentheid gee en ek wil nie stagneer nie. ‘n Mens moet daardie ambisie en vooruitsigte in die lewe hê.”
