Van Olimpiese ster tot mediese dokter
"Jou hart en siel moet in die sport wees om dit te maak."

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer, Lize-Mari Retief het agt jaar laas kompeterend deelgeneem en haar swempet intussen gebêre. Sy hoop om teen 2018 ‘n gekwalifiseerde dokter te wees.
“Ek is nie spyt dat ek opgehou het nie, ek het begin lewe. Vir 21 jaar was dit al wat ek gedoen het, maar ek sal dit weer doen. Ek het geweet ek kan nie ‘n lewe uit swem maak nie en wou graag trou en kinders hê. Ek lewe nou ‘n ander droom – om ‘n ma te wees.”
Klein Eira Luvé is verlede jaar in Mei gebore. Lize-Mari het haar sielsgenoot, Colin van Staden wat nou op ‘n proeftydperk by die Steval Pumas is, in 2006 op universiteit ontmoet.
Die trouklokke het in 2014 vir die twee gelui. “Ek het altyd gesê ek sal nooit ‘n rugbyspeler date nie, maar ek het hom beter leer ken en al hoe meer van hom begin hou. Colin is vir drie jaar Frankryk toe en in my vyfde jaar het ons verloof geraak.”
Hulle het in 2014 na die Laeveld verhuis nadat Colin ‘n pos in Sabie by York Timbers aanvaar het. Sy is tans besig met haar internskap by Themba Hospitaal, waar sy haarself oor twee jaar in ‘n praktyk sien.
Lees: Olimpiese ster maak draai by Curro se prysuitdeling
Die 29-jarige is ‘n gebore Bloemfonteiner en swem al sedert sy agt jaar oud is. Daar is nie ‘n sportsoort wat sy nie beoefen het nie – van perdy tot karate. “Sodra ek moeggeraak het vir iets, het ek opgehou,
by ‘n skoolgala in gr. 2, het een van die swemafrigters vir my ouers gesê dat ek regtig talent het. Ek wou ook ophou swem, maar my pa het net sy voet neergesit.”
Die Retiefs het daarna na Johannesburg verhuis waar Lize-Mari van gr. 5 af vir St Mary’s geswem het. Twee jaar later is sy vir die eerste keer vir ‘n Suid-Afrikaanse span gekies wat in Brasilië gaan deelneem het. Na skool is sy na die Hoëprestasiesentrum (HPC) by die Universiteit van Pretoria, waar sy sportwetenskap studeer het.
Sy het haar land in 2003 by die Afrika-spele verteenwoordig, in 2006 by die Statebondspele en in 2007 by die Wêreld-kortbadkampioenskappe. By die Statebondspele het sy ‘n bronsmedalje in die 50m-vlinderslag om haar nek gehang. Sy het in die semi’s tydens die Olimpiese Spele uitgeval.
“Jou hart en siel moet in die sport wees om dit te maak.”

