SA’s wink vir drie gimnaste van NGA
Drie van Nelspruit Gimnastiek Akademie (NGA) se gimnaste het na afloop van sewende tot Olimpiesevlak se kwalifiseringskompetisie in Centurion na die nasionale kampioenskappe deurgedring.
Dit vind die eerste naweek in Julie in Durban plaas.
Die 12-jarige Amani Omar was algeheel tweede met goud op spronge en silwer op die brug en vloer.
Lees ook: Amani Omar raap ‘n rits pryse as gimnas op
Ashley Kellar (13 tot 18 jaar) het ook die tweede plek op die podium ingeneem met goud en brons op brug en silwer op die balk en vloer. Alhoewel Kayleigh Gibb, wat in dieselfde ouderdomsgroep deelgeneem het, nie ‘n medalje in een van die apparate gekry het nie, was sy algeheel derde.

“NGA is ongelooflik trots op die gimnaste en vetrou dat hulle die klub se naam hoog gaan hou. Sterkte vir die laaste maand se voorbereiding,” het die afrigter, Maré Putter gesê.
Tydens die kwalifiseringskompetisie kry elke gimnas by elke apparaat ‘n uitvoeringspunt asook ‘n punt vir die moeilikheidsgraad. Hierdie punte word saamgevoeg om die finale punt vas te stel.

