Sunbirds vlieg nóg hoër in netbal-reeks
Die senior provinsiale netbalspan, die Sunbirds het een plek sedert verlede jaar se Brutal Fruit-toernooi opgeskuif en vanjaar agtste geëindig.

Hulle was verlede jaar in die negende plek en twee jaar terug 10de.
Die Sunbirds het onlangs in Durban met die Oos-Kaap Aloes, Limpopo-Baobabs en Noord-Kaap Diamonds vir posisies sewe tot 10 sake uitgespook. Die Sunbirds het hulle beste vir laaste gelos toe hulle met die Diamonds 42-37 afgereken het. In die groepfases was die Diamonds met een doel aan die wenkant.
Lees ook: Sunbirds excel to earn promotion
Die Sunbirds het ook die Baobabs oortuigend met 29-48 verslaan. In albei wedstryde was die veelsydige Palesa Mbukwane, wat doel en verdediger kan speel, die speler van die wedstryd. In die reeks het sy drie speler van die wedstryd-toekennings ontvang.
Teen die Aloes het die vroue van Mpumalanga goeie rekenskap van hulself gegee en met 34-49 die onderspit gedelf. “Ons wou sewende geëindig het, maar agtste is beter as verlede jaar se negende plek,” het die kaptein Thulisile Nhleko gesê.
Lees ook: Ehlanzeni athletes honoured at sport awards
Vir die breier Jenne-lee Delport was dit ‘n goeie wyse om haar tyd as Sunbirds-afrigter af te sluit. “Ek dink die spelers wou iets aan my terugbesorg vir wat ek die afgelope twee jaar vir die Sunbirds gegee het,” het sy gesê.
