Nuwe Bokspan, nuwe menings
Die Springbokafrigter, Allister Coetzee het Saterdag na afloop van die Superrugby-jukskeiderby tussen die Blou Bulle en die Xerox Golden Lions op Loftus Versfeld, sy Bokgroep vir die opkomende toetse teen Ierland aangekondig.

Uit die 31, is daar 12 spelers van kleur wat dit die grootste groep swart spelers in die Bokspan nog maak.
Coetzee het tydens sy besoek aan die Laeveld sy gevoelens oor transformasie uitgespreek.
“Ek is nie bang om oor transformasie te praat nie. Dit begin in jou kop en in jou hart – nie oor wit, swart of gekleurd nie. Dit is belangrik om te weet dat dit nie oor kleur gaan nie. Daar is geen speler wat graag gekies wil word as gevolg van sy kleur nie. Dit gaan vir my oor wat die speler tot die span bydra. Ek hoor wat die minister van sport sê, maar ek is ook ‘n realis.”
Laevelder het die eerste rugbyspanafrigters van die laerskole gevra wat hulle opinie oor Coetzee se keuse is. Gebore Mbombela-inwoners, Duane Vermeulen en Faf de Klerk se ouers het ook hulle sê oor die groep gesê.
Dit is wat hulle sê:

Dit is ‘n goeie span. As jy kyk na transformasie, is dit beslis die beste span wat Allister kon gekies het. Die regte jong en ervare spelers is gekies. Dit sou nie sin gemaak het om ouer spelers soos Bismarck en Jannie du Plessis in te sluit nie, want hulle sal teen die volgende Wêreldbeker nie meer op hulle beste gewees het nie.

Ek is baie tevrede met die span. Dit is ‘n jong span wat deurkom en transformasie is goed op dreef. Die spelers is nie gekies net om die kwotasisteem gelukkig te hou nie, maar omdat hulle dit verdien. Daar is ‘n goeie balans tussen ervaring en nuwe spelers. Dit lyk of Springbokrugby op pad na hoër hoogtes is.

Hy het ‘n goeie mengsel van verskillende spelers in die span, wat goed is. Ek is opgewonde om te sien wat hulle kan doen, veral omdat baie van die spelers nog nie voorheen saam met Allister gewerk het nie. Dit is ‘n jong klomp spelers wat goed op dreef is en dit is verkwikkend.

Ek dink ‘n mens kan sê dat die spelers op meriete en vorm van hoogstaande gehalte is. Ek is veral opgewonde oor Faf de Klerk en Jaco Kriel. Dit is ‘n goeie kombinasie van jong en meer ervare spelers en daar is genoeg ouens om die kultuur van Springbokrugby aan die nuwelinge oor te dra. Iemand soos Adriaan Strauss kán leiding gee.

Dit is ‘n goed gebalanseerde span en die kwotaspelers in die span is fenominaal. Jy kan dit beslis ‘n Springbokspan noem. Dit blyk of Allister ‘n goeie idee het van wat hy in ‘n span soek. Dit is lekker om uiteindelik ‘n paar Leeuspelers in die span te sien.

Ek dink dit is ‘n gebalanseerde span met ‘n lekker mengsel van ervaring en jeug. Allsiter het regtig spelers op vorm beloon en nie op reputasie en naam gegaan nie. Hy het almal se ondersteuning met sy spankeuse.

Ons was bang oor die span-aankondiging veral oor die transformasiereëls, maar Allister het hom goed van sy taak gewkyt. Die jong spelers maak ons opgewonde en dit is ‘n span wat vorentoe gevat kan word. Hy moet nou ‘n span bou wat in 2019 gereed vir die volgende wêreldbeker gaan wees. Ek sou self nie ‘n beter span kon gekies het nie.
