Mpumalanga swem vereer top swemmers
Mpumalanga se top swemmers is verlede naweek vir hulle prestasies beloon tydens Mpumalanga Swem se jaarlikse prysuitdeling.

Mpumalanga se swemsterre is die naweek vir hulle uitmuntende prestasies die afgelope seisoen beloon. Mpumalanga Swem se jaarlikse prysuitdeling is Saterdagaand by Bee Eaters Farm gehou.
Rocco Meiring, bekende swemafrigter by die Universiteit van Pretoria, was die gasspreker en het sy benadering met die swemmers, hulle ouers en afrigters gedeel.
Vir Meiring geskied alle afrigting in ‘n span waarin almal mekaar moet ondersteun. Die swemmer, ouers, afrigter en oefenmaats vorm almal deel van dié span.
Hy het ook daarop gewys dat die swemmers op skool vreesloos behoort te wees, omdat die uitkoms nie belangrik moet wees nie.
Maar, die hardste, belangrikste werk wat dié wat later professioneel meeding doen, is op hoërskool wanneer hulle nog groei.
Tog is hierdie persentasie bitter klein, en is die voordeel van sport vir kinders die dissipline en deursettingsvermoë wat dit hulle leer.
Vir van die eregaste en die swemmers, is verskeie sertifikate, kleurbaadjies en trofeë uitgedeel, en selfs die sterre van die toekoms, is vir hulle harde werk beloon.
Christelle Kriel was die top-swemmer met ‘n gestremdheid, nadat sy die jaar ses Afrika-rekords kon verbeter.

Volgens die Hytek-ouderdomsgroep-punteleer is Jetro Piso en Stephani Viljoen as die senior swemmers van die jaar aangewys, en Jimmy Munro en Carolien Pienaar as die juniors. Munro is ook as die seunswemmer wat deur die seisoen die meeste verbeter het gekroon, met Yuva Singh as sy vroulike eweknie.
Erica Sibande was die top-voorheen-benadeelde swemmer. Die beste individuele prestasies (soos bepaal deur internasionale swemfederasie, Fina, punte) was Mel Stronkhorst wat 690 punte gekry het vir sy 50m-borsslag en Liza-Mari Drummond wat 663 in die 100m-vryslag behaal het.

Drummond en Johan Viljoen het die aand ook vir die eerste keer hulle erekleure ontvang, nadat hulle gekies is om die provinsie by die senior nasionale byeenkoms te verteenwoordig.
- Lees meer: Local swimmers shine at KZN championships















