Koch bly ‘n Steval Puma tot einde van Curriebeker
Besturende direkteur van die Mpumalanga Rugby-unie, Pieter Burger sê dat daar geen kwade gevoelens tussen die unie, Vincent Koch en sy agent, Gert-Andries van der Merwe is nie.

Die Engelse rugbyklub, Saracens het Maandag bevestig dat Koch wel ‘n tweejaar-kontrak by hulle geteken het. Gerugte dat hy voor sy kontrak in Oktober by die Steval Pumas verstryk, na die rugbyreus gaan vertrek, is ongegrond. “Ek het nie persoonlik met Vincent gepraat nie. Ek vermoed dat sy agent onregmatig opgetree het deur nie met hom oor die saak te praat nie. Dit sal onregverdig vir my wees om iets te sê,” het Burger Donderdag aan Laevelder gesê.
Lees ook: Saru-statistieke misleidend
Nóg ‘n kwelpunt wat kop uitgesteek het, is dat Vincent en sy agent die Pumas ingelig het dat die stut ‘n knie-operasie moet ondergaan. “Wie het nou gejok? Vincent, Gert of hulle albei? Saracens het ‘n uitstekende stut bekom, maar die media vergeet wie Vicent se betalende werkgewer is.”
Sy kontrak verstryk eers einde Oktober by die Pumas en sal na die Laeveld vir die Curriebeker Premierliga terugkeer. Renaldo Botha, wat as Namibië se kaptein vir die opkomende Wêreld Rugby Nations Cup in Roemenië aangewys is, moet ook na die Pumas terugkeer. Hennie Skorbinski is ook deur die Namibiese Rugby-unie vir die toets uitgenooi, maar het die aanbod van die hand gewys.

“Hennie het in ‘n e-pos, die unie in kennis gestel dat hy dankbaar en geëerd is, maar dat hy nie daar gaan speel nie.”
Superrugby-leenspelers, Lubabalo Mtyanda (Sharks) en Chris Cloete (OP Kings) is vir die res van die seisoen buite aksie weens beserings. “Ons het genoeg diepte in die span en hoef nie vure oor die twee spelers dood te slaan nie. Ons beplan dus nie om ander spelers in hulle posisie te nader nie.”
Lees ook: Pumas maak gebruik van Brendan Venter
Cloete was deel van die afrigter van die Suid-Afrikaanse A-span, Johan Ackermann se planne, maar weens sy besering is hy nie beskikbaar nie.
Nóg ‘n speler wat later vanjaar by die Pumas aansluit, Francois Brummer is op die plaasvervangersbank vir die SA A-span wat vanaand in Bloemfontein teen die England Saxons uitdraf.

