Die spannetjie is almal se tier
Afrigter Albert Booyens sê dis 'n eer om 'n span af te rig wat so gretig is om te verbeter.
Rob Ferreira se o/14-rugbyspan is die sewende beste in Suid-Afrika en Saterdag is hulle wedstryd teen Generaal Hertzog van Witbank 15 minute voor die tyd gestaak toe die telling 80-0 in hulle guns was. Die Robbies se vorige wedstryde is op soortgelyke wyse beëindig toe hulle ook Barberton, Curro, Uplands, Merensky, Frans du Toit, Secunda, Lydenburg en Bergvlam se spanne kafgedraf het. Hulle het tot dusver altesaam 570 punte aangeteken met net 15 punte teen hulle. Kan hierdie dalk ons volgende Springbokspan oor vyf jaar wees?
Afrigter Albert Booyens sê dis ‘n eer om ‘n span af te rig wat so gretig is om te verbeter. Hulle het nog net vier keer die volle speeltyd op die veld deurgebring. Vyf van hulle wedstryde is lank voor die einde gestaak omdat die tellings te hoog en spel te fisies was sodat dat die ander spanne se afrigters onttrek het.
Die seuns weet hulle moet altyd nederig bly. Dit is die enigste manier hoe hulle sulke uitslae gaan behaal. Vir hulle gaan rugby oor veel meer as die sport. Dit gaan eerstens om hulle hemelse Vader te vereer, dan die persoon langs jou en laastens jouself. Die o/14-termiete is ‘n broederskap waar dankbaarheid vir hulle talente en liefde en respek vir ander en mekaar die grootste rol speel. Hulle sien rugby as ‘n lewenstyl om volwassenheid vinniger te bereik en al die lewenswaardes en dissiplines in die lewe te respekteer en voluit te leef.
