Tafel vir Premierliga reeds gedek
Daarom is die kans dat die Pumas nie na die premierliga gaan deurdring nie, hoogs onwaarskynlik.
Die Steval Pumas het reeds teen die tweede gekeurde span op die Curriebeker-kwalifiserende punteleer gespeel en vroeg in die reeks met die span wat die vierde plek beklee, die Boland Kavaliers afgereken.
Lees ook: Pumas se Fisher druk wendrie teen Cheetahs
Griekwas, wat agt van hulle 10 wedstryde gewen het, is oor twee weke op die Pumas se kerfstok.
Die span kom Vrydagaand op Mbombela Stadion teen die sukkelende OP Kings in die 11de kwalifiserende ronde te staan. Die Laevelders het Saterdag in Newcastle op die Arborpark-stadion gemaklik met die Sharks XV 35-13 afgereken. Die Pumas het vyf drieë ingeryg om so met ‘n bonuspunt-oorwinning terug te keer huis toe. Hulle speel in hulle laaste kragmeting teen die Luiperds op tuisbodem.
Lees ook: Pumas blom in Jakarandastad
Die Pumas het Saterdag vyf drieë ingeryg waarvan die eerste in die 11de minuut deur die senter, Hoffmann Maritz gedruk is. Die skrumskakel Reynier van Rooyen het drie minute later weer toegeslaan toe hy ‘n beweging wat naby hul doellyn geloods is, afgerond het en voor rustyd het Nardus van der Walt met sy span se derde vyfpunter gespog.
Die losskakel van die Sharks, Tristan Tedder, het met net twee strafdoele in die eerste 40 minute geslaag.
Flank van die Pumas, Lambert Groenewald het die telling in die tweede helfte verder gerek met nog ‘n drie en die plaasvervangerstut, Jacques Kotze was ook een van die Pumas se drieëdrukkers.
Lees ook: Groenewald sak vanaand op agt
Net Nkululeko Marwana van die Durbaniete kon onder die pale gaan kuier met Tedder wat twee punte bygevoeg het.
Griekwas speel hulle volgende twee wedstryde teen die Sharks en daarna teen die OP Kings, terwyl die Kavaliers nog drie wedstryde teen die Namibiese Welwitschias, Vodacom Blou Bulle en die Westelike Provinsie oor het.
Lees ook: Driedrukkers bring verligting vir Pumas
WP beklee steeds die tweede plek op die punteleer met 37 punte en die Pumas met net een punt verskil op 36. Die Pumas het in die sewende ronde teen die Kapenaars te staan gekom waar hulle die kragmeting 20-27 verloor het.
Die kans vir die Down Touch Griffons en die SWD Arende (albei op 25 punte) om die top-vier spanne in te haal, is teen die tyd van die seisoen, nie meer moontlik nie. Vrydag se kragmeting teen die Kings skop 17:00 af. Kaartjies beloop R60 per volwassenes en R10 vir skoliere.
So het die ander spanne gespeel:
• Welwitchias 5 vs. SWD Arende 96
• Westelike Provinsie 43 vs. Down Touch Griffons 26
• Toyota Vrystaat Cheetahs 23 vs. Luiperds 14
• Vodacom Blou Bulle 42 vs. Valke 15
• Grens 17 vs. Boland Kavaliers 38.
