Veelsydige Malalane-atleet verteenwoordig SA in Pole
Die 17-jarige George Kusche het die afgelope naweek aan die wêreldkampioenskappe in Pole in die SA Seniorspan deelgeneem en is onder die top-10 atlete in sy ouderdom geplaas.
George Kusche se atletiekloopbaan het die afgelope paar jaar behoorlik vlamgevat sedert hy as laerskoolseun die stofstrate van Malalane platgehardloop het.
Kusche se pa, Alf, vertel dat die jongeling reeds in Laerskool Malelane bekend was, beide vir sy uitstekende skoolwerk maar ook vir al die kattekwaad wat hy aangevang het.
In gr. 8 is hy Afrikaans Seuns Hoër in Pretoria toe sodat hy musiek as ‘n vak kon neem en is tans in matriek. Hy speel uitstekend klavier en het selfs aan ‘n internasionale kompetisie deelgeneem.
Die Kusche-egpaar het van kleins af gesien dat hul seun hardlooptalent het, maar dit het werklik eers in gr. 9 begin blom toe hy groterige byeenkomste wen het.
Hy het in sy o/14-jaar aan die Super Interhoër in Germiston deelgeneem. Die volgende jaar het hy baie goeie tye in die middelafstande behaal en is SA’s toe vir die 800m en 1 500m.
In 2014 het hy rekords in die 1 500m en 1 800m verbeter en verskeie toekennings ontvang.
Sy atletiekloopbaan is verlede jaar egter onderbreek toe hy ernstig siek geword het as gevolg van klierkoors. Na ‘n tydperk in die hospitaal het hy egter weer sy tekkies aangetrek en aan landloop deelgeneem.
Hierdie jaar kon hy weer skitter en het tydens verskeie interhoërbyeenkomste goed presteer.
Hy het tydens die SA Veld- en Baankampioenskappe vir die SA Seniorspan met ‘n tyd van 1;47,45 vir die 800m gekwalifiseer. Dit was die tweede vinnigste tyd vir sy ouderdomsgroep in die wêreld.
Hy is op 28 Junie Pole toe en het aan voorbereidingsbyeenkomste in Europa deelgeneem voordat die res van die span op 16 Julie by hom aangesluit het. Die byeenkoms was vanaf 19 tot 25 Julie, met Kusche se wedlope op 22 en 23 Julie.
Hy het met ‘n breukdeel van ‘n sekonde die kwalifiserende tyd misgeloop, maar ‘n sewende plek in die halfeindstryd van die o/20 800m behaal.
Sy pa sê dat sy seun se gebrek aan ervaring en ouderdom teen hom getel het, maar dat hy in die volgende paar jaar nog geleenthede sal kry om in die ouderdomsgroep te presteer.
Na dié byeenkoms het hy ‘n twee week lange ruskans voordat hy aan landloop gaan deelneem.
“George voel dat hy baie met sy siekte misgeloop het en probeer nou soveel moontlik doen,” vertel sy pa. Hy mik om ook SA kleure in landloop te verwerf.
Kusche word deur Johan Botha, ‘n 800m-wêreldkampioen afgerig en hoop hy om sy atletiekloopbaan na skool voort te sit.
Alf sê hy en sy vrou, Susan, is baie trots op hul seun, aangesien hy ook ‘n hoë akademiese gemiddeld handhaaf.
Die matriekleerling het ‘n besige program aangesien hy benewens landloop en atletiek ook soms rugby, tafeltennis, skaak en krieket speel, maar vakansies kom maak hy ‘n draai in die Onderberg om saam met die familie te kuier.
Lees meer oor Lanie-presteerders:
• Jong skaakspeler maak al die regte skuiwe
• Lanies tel onder provinsie se top-fietsryers
• Trio from Malelane shines at athletics SA’s

