Onderwyseresse ryg die medaljes op sportveld in
Twee onderwyseresse van Komatipoort Akademie het hulself onderskei, nie net in die klas nie, maar ook na-ure op die sportveld.
Komatipoort Akademie spog met twee onderwyseresse wat sedert die begin van die jaar ‘n hele paar medaljes op die sportveld verwerf het.
Neliza van Niekerk het aan die begin van die jaar by die personeelkorps aangesluit en reeds drie medaljes sedert einde Junie verwerf.
Op 25 Junie het sy tydens die Big 5 MTB-wedren ‘n silwer medalje in die senior dames-afdeling in ‘n tyd van 1:03:31 behaal. Sy het op
23 Julie aan ‘n landloopliga-byeenkoms van Mpumalanga Atletiek op die Tenbosch-plaas deelgeneem en ‘n goue medalje vir vroue 30-35 jaar losgedraf deur 4km in 22:17 te voltooi.
Van Niekerk het op 13 Augustus wéér ‘n medalje losgetrap toe sy aan die Nkomazi MTB Challenge in Malalane deelgeneem het en goud verwerf in die 19km ope-afdeling vir dames. Haar tyd was 55:45.
Haar volgende uitdaging is die Jeep Warrior Race, ‘n hinderniswedloop, wat aan die einde van volgende maand net buite Mbombela gehou word. Dit toets deelnemers se uithouvermoë, fiksheid en durf en sy is tans hard besig om daarvoor te oefen.
Agatha Lee du Plessis, die Onderberg se Meesters SA Atletiekkampioen, is ook ‘n onderwyser by die skool, en kan nie eers meer onthou hoeveel medaljes sy vir haar uitstaande prestasies vir veld- en baanitems behaal het nie.
Haar jaar se suksesse sluit egter prestasies op provinsiale en nasionale vlak in. Sy het in Mei twee silwer medaljes verower vir verspring en die 100m-wedloop, asook goud vir spiesgooi en hoogspring tydens die provinciale Gatuteng Noord Meesters-atletiekbyeenkoms vir atlete 60 jaar en ouer.
By die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Junie het sy goud in hoogspring en silwer in spiesgooi, verspring en die 100m behaal.
Sy het hier gekwalifiseer om aan die wêreldkampioenskappe in Korea deel te neem, wat inMaart 2017 plaasvind.
Tussen al die skoolwerk en sportafrigting is sy besig met voorbereidings vir dié groot geleentheid en sy sien geweldig uit daarna om die land en die skool trots te maak. Sy het eers op haar eie geoefen aangesien daar geen ander baan- en veldatlete van haar kaliber in die omgewing is nie, maar het ‘n paar maande terug die hulp van twee afrigters gekry.
Hulle help haar nou om haar vaardighede te slyp. Sy het egter steeds borgskappe nodig om reis- en ander kostes te dek en hoop om ondersteuning uit die gemeenskap te kry.
Die twee juffrouens is ‘n groot inspirasie vir die skool se atlete en die leerlinge en personeel is baie trots op hul prestasies.
