Komati kraai koning tussen die vlakvarke in Skukuza
Die jaarlikse krieketwedstryd tussen Komatipoort en Skukuza was weereens 'n wonderlike ervaring en spelers moes op 'n stadium hul spel aanpas om nie drie vlakvarke te steur nie.
Nie eers drie vlakvarke wat hulself langs die veld tuisgemaak het om aan die gras te knibbel, kon Komatipoort se krieketspan Saterdag in Skukuza van stryk bring nie.
Die twee spanne het kragte gemeet tydens ‘n jaarlikse wedstryd in die ruskamp en Komatipoort het weereens koning gekraai.
Spelers moes soms hul aanloop bietjie aanpas met die boulbeurte om die drie wilde toeskouers te akkommodeer, maar dit het als bygedra tot ‘n onvergeetlike ervaring.
Komatipoort Krieketklub is nie ingeskryf by enige liga nie, maar spelers word soms genooi om vir Skukuza te speel.
Die wedstryd teen Skukuza is ‘n instelling wat al vir 22 jaar plaasvind en waarvan Komati 17 keer die wenners was.
Die spelers het die wedstryd baie geniet en die spangees was goed. Volgens Aubrey van der Bank was die kolf en balwerk baie goed. Die veldwerk het hul egter soms in die steek gelaat.
Die beste kolwer van die dag was Nico Joubert, terwyl die beste bouler Pieter van der Bank was. Stephan du Plessis, wat ook die oudste speler in die span is, was die beste veldwerker.
Komati het met drie paaltjies en 46 lopies gewen met 303 lopies teenoor Skukuza se 257.
Spelers het meer as net ‘n lekker wedstryd gehad. Met sonsopkoms het hul die voorreg gehad om ‘n paar prag-maanhaarleeus en ‘n luiperd langs die pad raak te loop en op pad terug het ‘n luiperd salig in ‘n boom se mik aan sy vangs vir die dag geknibbel.
Daar is heelwat krieketspelers in Komatipoort en belang-stellendes is welkom om te kom aansluit. Daar is tans nie ‘n afrigter nie, maar volgens Van der Bank is daar baie talentvolle krieketspelers en elkeen se insette is waardevol en word waardeer. “As Komati sou inskryf in ‘n liga, glo ek hul sou verseker oorheers,” meen hy. Spelers oefen Maandae en Woesndag om 17:30. Skakel Van der Bank by 076-365-8189 vir navrae.
Die klub waardeer al die toeskouers wat deurgery het na Skukuza vir hierdie jaarlikse wedstryd. Die plan is om volgende jaar weer oor te slaap, soos die tradisie reeds is, sodat die hele gesin die uitstappie na die Krugerwiltuin kan geniet.





